Angus Buchan nooi 100 000: “Kom bid saam in Soweto”

sacred-assembly

Read in English

Die tyd raak min om jou gratis sitplek te bespreek vir November 19 se versoenings-byeenkoms in Soweto se FNB-stadion. Gratis kaartjies is vanaf Oktober 21 by Computicket verkrygbaar.

- Advertisement -

Die evangelis, Angus Buchan, wat een van die sprekers is by die ‘Sacred Assembly’ — byeenkoms, nooi alle volwassenes en kinders uit om saam te kom bid vir vrede en stabiliteit in Suid-Afrika.

- Advertisement -

Liefde, vergifnis en gesindhede moet geweld en woede vervang
Hy sê dat daar ‘n reuse gebrek in Suid-Afrika is om mekaar lief te hê, te verstaan en te vergewe. Dit lei tot ‘n gees van geweld, woede en negatiwiteit wat oorspoel na die jeug en wat ook uiteindelik selfvernietigend kan wees. In die proses raak ons liefdeloos, is ons besig om mekaar meer en meer te wantrou en die land se naam deur die modder te sleep.

Die hooforganiseerder van die byeenkoms, die sanger Joe Niemand, sê dit is nie net ‘n een-dag-gebeurtenis nie. “Dit moet net die begin wees van iets wat ‘n nasionale impak gaan hê.”

Joe sê alles word gratis aangebied in belang van die land en sy mense, en in afhanklikheid en geloof dat ons hemelse Vader dit sal gebruik om ons gesindhede te verander. Die byeenkoms strek ver oor alle kleur, taal, en kerklike denominasies heen.”

- Advertisement -

Joe vertel hoe hy in ‘n restaurant met ‘n groep leiers in die taxibedryf vergader het om te praat oor openbare vervoer na die FNB-stadion op November 19. Dit is besonder sensitief, aangesien mense oor afgebakende sones vervoer sal moet word. Die onderhandelinge het gehandel oor vreedsame samewerking en buigsaamheid op die dag. Aan die einde van die vergadering het die hele groep in die middel van die besige restaurant opgestaan, in ‘n sirkel hande gevat, en saam gebid vir God se seën oor Suid-Afrika.

“Dit was ‘n Goddelike oomblik en die teenwoordigheid van Jesus was aanvoelbaar. Verreweg die meeste mense in Suid-Afrika, oor alle kleur- en kultuurgrense heen, smag na hoop, vrede en geregtigheid.”

fnb-stadium
The 95 000-sitplek FNB-stadion, Soweto. (FOTO: Tripadvisor.co.uk )

Suid-Afrikaners is liefdevol en smag na hoop, vrede en geregtigheid
Buchan sê Suid-Afrikaners kyk dikwels soveel waarhede mis deur meer op die negatiewe te fokus. “Ons woon in een van die mooiste lande ter wêreld en verreweg die meeste Suid-Afrikaners is warm en liefdevolle mense. Dit is dieselfde mense wat voor die Here moet buig en Hom vra om die gees van verwoesting te breek.

“Ek nooi alle Suid-Afrikaners om op November 19 in Soweto saam te trek – jonk, oud, swart, wit, bruin, Indiërs, mans, vroue en kinders – elke individu – myners, studente, predikers, boere, sportmense, huisvroue, oues van dae, onderwysers, politici, sakemense en werkloses…”

Buchan glo Suid-Afrikaners moet in die eerste plek erken dat ons as mense fouteer en dat ons om vergifnis moet vra. “Eers wanneer ons voor die Almagtige buig en Sy leiding vra, kan ons ‘n ommekeer in die land verwag.”

Die byeenkoms is gratis, maar kaartjies word vanaf Oktober 21 deur Computicket versprei op ‘n eerste-kom-eerste-kry-basis.

Besigtig die promosie video:

Medianavrae kantoorure: 021 936 8102

VIR AKKREDITASIE: Stuur jou naam en van, ID-nommer, naam van organisasie en sel nommer na mailto:media@angusbuchan.co.za– Parkering sal op die dag gereël word.

One Comment

  1. MARCEL DE VILLIERS

    I saw the gates open at 11h00. At what time does the program and worship starts.