Drie Afrikaanse kerke reik saam ’n verklaring oor die verkiesing uit

Deur Danie Mouton

Die voorsitters van die Algemene vergaderings van drie Afrikaanse kerke het ‘n gesamentlike verklaring oor die komende verkiesing uitgereik waarin burgers aangemoedig word om te stem. Hulle skryf onder meer:

Verantwoordelike Christene mag nie die geleentheid om ‘n positiewe invloed op die regeerders van die land uit te oefen, laat verbygaan nie. Hulle moet hulle kruisies trek in verkiesings en hulle stemme oor belangrike sake op munisipale vlak gereeld laat hoor. Die grondwet van Suid-Afrika waarborg aan hulle die ruimte hiervoor.

Die volledige verklaring less soos volg:

Die vertroue van gelowige Christene uit alle dele van die Suid-Afrikaanse bevolking in persone op alle vlakke van regering het ‘n nuwe laagtepunt bereik. ‘n Siniese houding en ‘n ontnugtering oor politici en hulle optrede leef by baie burgers van hierdie land. Dit het tot gevolg dat onrus oor munisipale sake ook gereeld voorkom en dat positiewe burgers geen nut in die komende plaaslike verkiesings sien nie.

Daarom is dit nodig dat alle gelowige burgers opnuut besef dat stemreg nie alleen ‘n reg is nie, maar ook ‘n verantwoordelikheid. As die meerderheid van hierdie land Christene is, móét dit eventueel weerspieël word in die betroubaarheid en gehalte dienslewering van die regeerders wat aangewys word.

- Advertisement -

Verantwoordelike Christene mag nie die geleentheid om ‘n positiewe invloed op die regeerders van die land uit te oefen, laat verbygaan nie. Hulle moet hulle kruisies trek in verkiesings en hulle stemme oor belangrike sake op munisipale vlak gereeld laat hoor. Die grondwet van Suid-Afrika waarborg aan hulle die ruimte hiervoor.

Daarby kan Christene met die oog op die munisipale verkiesings van 18 Mei met reg ook die volgende van plaaslike regeerders verwag:

Click to join movement

  • ‘n Vaste voorneme om belastinggeld in belang van die hele plaaslike bevolking aan te wend en dit deursigtig en eerlik te hanteer. Dit beteken ondermeer streng maatreëls om korrupsie hok te slaan en om basiese dienste soos die verskaffing van water, elektrisiteit en sanitasie op ‘n aanvaarbare vlak te lewer.
  • Plaaslike regeerders sal met geloofwaardigheid kan bydra tot die bekamping van misdaad as hulle enige vorm van misdaad of wanbestuur in hulle eie midde uitroei. Hulle moet ‘n publieke opinie bevorder wat misdaad streng afwys.
  • In Suid-Afrika as ‘n verklaarde nie-rassige land moet swak dienslewering nie aan ras gekoppel word nie, maar billike kritiek op swak dienslewering ook nie as rassisme afgemaak word nie. As diens aan almal en nie die belange van die eie ras nie, die motief is, kan dienslewering op plaaslike vlak verbeter word. Die ANC se houding by onlangse samesprekings met kerke waarin die party sy onvermoë tot behoorlike dienslewering erken en almal se medewerking vra, moet in praktiese dade omgesit word. Daarvoor sal die regering die inisiatief moet neem.
  • Plaaslike regeerders moet besef dat hulle in die publieke belang moet optree en in ‘n demokrasie aan die publiek verslag moet doen. Publieke wantroue en afkeur word nie met ‘n dowe oor of selfs polisie-optrede vernietig nie.
  • Plaaslike regeerders in ‘n demokrasie moet streef na ‘n vertrouensverhouding tussen regeerder en publiek en aan die kant van die reg gaan staan. Die resep vir ‘n vreedsame, ontwikkelde gemeenskap is ‘n owerheid en onderdane wat hulle tot die reg van almal verbind.

Geteken: drr Neels Smit (Geref Kerke in Suid-Afrika) en Daan van Wyk (Ned Herv Kerk van Afrika) en prof Piet Strauss (NG Kerk).

Comments are closed.