Getuigskrif van genade en genesing

[notice]KENNY SMAL, prokureur van Alberton het gedurende 2009, op 47 jarige ouderdom, voor die deur van die dood gestaan as gevolg van gervorderede serose van die lewer veroorsaak deur drankmisbruik. Medici het hom slegs ‘n paar weke gegun om te lewe. Tydens sy hospitalisasie en behandeling aanvaar hy Jesus as sy Verlosser en pleit hy om God se vergifnis. In die hieropvolgende getuienis deel hy sy reis na herstel, wat deur sy internis as ‘n wonderwerk beskou word. Vandag volg Kenny sy passie vir fietsrenne ywerig na en behaal hy tans sy persoonlike beste reultate in 13 Jaar. Hy getuig dat hy aanvanklik skaam en verlee was om openlik oor sy verlede te praat, maar dat dankbaarheid teenoor God hom aanvuur om sy verhaal te deel en ander, wie dalk op dieselfde pad mag wees, te waarsku dat dit bloot nie die risiko werd is nie.[/notice]

Uit diepe dankbaarheid vir genade aan my betoon in die tyd van my diepste beproewing, is my aanvanklike motivering en wens om my beproewing te deel met ander, wie dalk die gevaarligte in die verte sien flikker, mettertyd aangevuur tot ‘n ywerige begeerte waaraan ek doodeenvoudig uiting moet gee. Alhoewel ek aanvanklik baie skaam en verlee was oor die redes en gebeure wat aanleiding tot my beproewing gegee het, word enige van daardie emosies tans heeltemal oorskadu deur dankbaarheid om dit te kan deel.

“Op daardie dag het die besef my soos ‘n vuishou getref, asof ‘n blinddoek afgehaal word en het ek net daar opgehou drink, opgestaan en uitgeloop. Die ontkenning is vervang met meer as skok, eerder ‘n doodsangs as gevolg van die besef wat uiteindelik deur my gesny het.”

Die keerpunt in my lewe was op  September 22, 2009, toe ek soos gewoonlik besig was om te drink op ‘n stadium wat ek nie sonder alkohol kon funksioneer nie. Die betrokke middag was ek baie bekommerd, want vir die eerste maal het die besef dat ek ernstig siek is tot my deurgedring. Ek het die simptome van lewerversaking twee weke tevore al waargeneem, geel kleur van vel, geswolle maag, voete, sweet, voortdurende moegheid, gebrek aan eetlus, maar tot op daardie dag het ek in ontkenning daarvan geleef, asof dit net ‘n slegte droom was. Almal om my het dit ook waargeneem, maar ek het telkens onderneem om die volgende week op te hou drink, net om weer in dieselfde bose kringloop te beland. Op daardie dag het die besef my soos ‘n vuishou getref, asof ‘n blinddoek afgehaal word en het ek net daar opgehou drink, opgestaan en uitgeloop. Die ontkenning is vervang met meer as skok, eerder ‘n doodsangs as gevolg van die besef wat uiteindelik deur my gesny het. Twee dae later op 24 September 2009 is my vermoede deur die senior Internis bevestig tydens die sonar skandering van my organe. Aangesien ek die Internis goed ken, was woorde oorbodig, want die uitdrukking op sy gesig het my vermoede (eintlik wete) bevestig. Bevinding : Gevorderde Serose van die lewer soos blyk uit sy verslag hierby aangeheg. Die verslag is op dieselfde dag opgestel as wat die lewerfunksie bloedanalise van my gedoen is soos uit die Patoloe se eerste verslag (aangeheg) blyk en die uitslag van beide was ‘n doodsvonnis vir my, soveel so dat die gepaardgaande angs tot gevolg gehad het dat ek my stem verloor het.

Serose van die lewer
Kortliks behels serose van die lewer die volgende: Die lewerselle kan nie normaal funksioneer nie, omdat dit beskadig of vernietig is of hulle normale  funksionering met die bloed verloor het. Van die bloed wat normaalweg deur die poortaar na die lewer sou vloei om gesuiwer te word, vloei dan deur ander kleiner are verby die lewer wat tot gevolg het dat gifstowwe in die bloed ophoop. Sodra die gifstowwe sekere konsentrasies bereik, versteur dit normale breinfunksie en progressief lei dit tot die volgende: Slaappatrone wat versteur word’, geirriteerdheid, onvermoe  om te konsentreer of berekeninge te maak, geheueverlies, verwarring, depressie, en in ernstige gevalle koma en dood. Die serose het verder tot gevolg dat die lewer seine na die niere stuur om sout en water terug te hou, wat geweldige swelling van voete bene en maag veroorsaak en die vel en oë wat geel word as gevolg van die toksiese stowwe (bilirubien) wat in die bloed ophoop. Die uitslag van my bloedanalise was verdoemend. Soos uit die patologiese verslag blyk, is die normaal aanvaarbare vlakke van totale bilirubien in die bloed tussen 5 en 21. Myne was ‘n krities hoë 593. Alhoewel die uitslae van die verslag eers etlike weke daarna tot my kennis gekom het, verstaan ek waarom die internis gedink het my lewensdae is uiters  beperk. Soos uit die internis se verslag blyk het die serose ook tot gevolg gehad dat my milt, waarin ou bloed opgegaar word, vergroot het.

Wat my simptome en gevolglike behandeling selfs nog meer lewensgevaarlik gemaak het was die feit dat ek tot op daardie stadium ‘n ongekontroleerde tipe 2 diabeet was wat my daaglikse medikasie (tablette) baie ongereeld geneem het. In die daaropovolgende weke tydens hospitalisasie was my bloedsuikervlakke telkens tussen 25 en 27, wat baie na aan ‘n koma stadium is, en het ek daagliks gemiddeld sowat 75 eenhede insulien spuit-toedienings ontvang ten einde my suikervlakke te prober stabiliseer. My diabetes het derhalwe vererger na tipe-1, wat beteken dat ek totaal insulien afhanklik was en natuurlik ook beteken het dat ek nie alle medikasie geredelik kon innem om my lewerkwaal te behandel nie. Die kosse moes heeltemal suiker- en vetvry wees.

Ten spyte van bogemelde, het die besef van my verantwoordelikheid in my beroep tot gevolg gehad dat ek vir nog minstens ‘n week na my aanvanklike diagnose, werk toe gegaan het en selfs werk huistoe gebring het, aangesien my voete so opgeswel het van water retensie, dat ek nie skoene kon aanhou nie, en gou moeg geraak het. Ek het tuisbehandeling ontvang deur familie in die verpleegberoep aangesien ek vir etlike jare nie meer op ‘n mediese fonds of hospitaalplan was nie. Op September 30 het my toestand egter so versleg, dat ek vanaf Oktober 1 deur ‘n kateter aarvoeding moes ontvang en dit sou my voorland vir die volgende byna vier weke wees. Die proses om ‘n aar in my arm te vind om die kateter naald in te druk weens my bloedarmoede, soos duidelik uit die Patologiese verslag bly, was ook pynlik en lank.

“Ek bid vir vergifnis en die voorreg om net nog een Kersfees te beleef en vrede te maak, eerstens met God, want daar is geen gevoel so verdoemend as die wete dat jy gaan sterf terwyl jou saak met jou Skepper nie reg is nie.”

Die onttrekkings simptome tydens hierdie tydperk was die ergste om te hanteer en aangesien ek twee lewensgevaarlike toestande beleef, (lewerserose en Tipe 1 diabetes) was die internis verstaanbaar huiwerig om te veel medikasie voor te skryf. Daarbenewens was sy beraamde lewensduur vir my slegs ‘n paar weke.(‘n Feit wat ek eers veel later van familie verneem het en my net meer sou ontstel het). Op Saterdag Okt 2 was feitlik die hele familie daar om te kom groet, en uit hul trane, houding kon ek sien hulle aanvaar die onvermydelike. Alhoewel ek hoop op beterskap en uitkoms en goed tuisversorging ontvang by familie versleg my toestand steeds en ek begin vrede maak dat my toestand terminaal krities is en dit aanvaar. Die skuldgevoel en berou is erger as die pyn. Ek bid vir vergifnis en die voorreg om net nog een Kersfees te beleef en vrede te maak, eerstens met God, want daar is geen gevoel so verdoemend as die wete dat jy gaan sterf terwyl jou saak met jou Skepper nie reg is nie. Ek bid ook vir my familie veral my dogter en seun, toe onderskeidelik 20 en 17, van wie ek vervreem geraak het, hoofsaaklik weens my verslawing, waartydens ek hulle vermy het. Ek wou nie gehad het hulle moes my in daardie toestand sien nie en nog minder wou ek he hulle moet my nou so hulpeloos sien. Ek besef hulle is eintlik al wat ek het. As ek dit maar net vroeer besef het, was dinge dalk anders. Die verwyte is daar, maar ek moet eerstens vrede maak met God. In die proses aanvaar ek God as my Verlosser, vra ek Sy vergifnis, maar aanvaarding daarvan is moeilik, want ek het so ver geval. Mettertyd begin ek vrede maak met my lot, alhoewel ek telkens nog vra waarom en skuldgevoelens my ry.  Ek aanvaar wat ookal gebeur, is nie in my hande nie.

Hospice
Teen Oktober 11 was my liggaam so opgeswel en die pyn in my bene bykans ondraaglik., dat ek nie kon opstaan of loop nie ten spyte van die medikasie, wat klaarblyklik geen effek op my gehad het nie. Die volgende dag is ek na Hospice geneem waar ek met ‘n rolstoel ingestoot is en die onvermydelike mee vrede gemaak het. Ontdanks hul gebrek aan befondsing en die nodige toerusting, is ek met waardigheid en bekwaamheid daar behandel en die kos was keurig en ek het berusting gevind, in die enkelkamer waarvoor ek ook baie dankbaar was. Die Staat se lykswa wat elke dag voor my kamervenster verbygery het om oorledenes af te haal en die geween van hulle naasbestaandes het deel van my daaglikse lewe geword. Ten spyte van my toestand en die feit dat my slaappatroon heeltemal versteur en  omvergewerp was, was ek verbasend helder, selfs ontdanks die verdowende effek van die medikasie en aarvoeding. Ek het telkens gewonder of die volgende dag ‘n “passasier” in die lykswa sou wees. Die einde van die week was ek weer na my familie geneem. Ek moes gaan groet en wou nie alleen sterwe, en teen die Maandag is ek weer in erge pyn terug. Na ondersoek word ek wakker met baie familielede langs my bed, wie ek aanvanklik nie herken het nie. “So dan is vandag my laaste dag” het ek gedink  – Maandag Oktober 19, 2009. Alhoewel almal in trane was en die atmosfeer baie somber, was daar tog iemand, ‘n niggie, wie se woorde ek tot vandag glo, ‘n groot invloed gehad het op dit wat later sou gebeur, of minstens op my houding teenoor my siekte en lot. Sy het by die voetenend van my bed gaan sit, haar hand effe bo my hart gehou en vir die ander gese: “hier is nog baie energie”, daarna het sy by ‘n klein koelhouer gaan koop wat sy vol ys gemaak het en vir my gegee het om my te suig sou ek dors word. Op daardie stadium kon ek nie myself voed nie. Elke beweging was ‘n ondraaglike pyn. Haar woorde en optrede was soos ‘n sprankie hoop wat opgevlam het binne my, want ek het gedink “dalk sien sy iets wat die res nie raaksien nie. Tot op daardie stadium het ek aanvaar “ This is D –Day” almal het die tyding gekry en hoe kan ek met die mediese wetenskap en gevoelens stry. Daardie aand het twee van my naaste familie by my in die kamer deurgebring en ek was dankbaar, want alhoewel ek rustig was, wou ek nie alleen sterf nie. Ek het telkens wakker geword en gekyk hoe slaap hulle in die stoele en gewonder wanneer ek nie weer wakker gaan word nie. Ek was kalm en het ingesluimer.

Ek glo in daardie paar uur het iets onbegryplik groot gebeur, want toe ek my oe weer oopmaak skyn die son. Dit was die teken vir my. God het ‘n ander plan vir my! Dieselfde oggend (Okt) is ek oorgeplaas na ‘n privaat kliniek in Vereeniging waar ek in ‘n rystoel ingestoot was. Ek heg die medikasie verslag van die kliniek hierby aan, asook die ontslag. Ek het daagliks gemiddeld 75eenhede(Mmol) insulien inspuitings ontvang net om te voorkom dat ek in ‘n koma verval. My bloedsuiker is 3 keer per dag gemeet en was konstant tussen 25-27Mmol. Die betrokke aand het die internis weer ‘n sonar skandering kom doen en hy was verras deur die sigbare verbetering in my lewer binne een maand. Teen die tweede dag in die kliniek, kon ek weer loop, alhoewel dit steeds pynlik was en het ek en my “kameraad”(die kateters(2) met trollie) begin om in die gange rond te stap. Ek was in ‘n saal saam 2 ouer mense wat baie aandag geverg het en die afdeling langsaan was ‘n sielkundige pasiente afdeling waar daar feitlik deurgaans gesing  en gehuil is.  Ek het gevoel ek moes eenvoudig daar uit. Aangesien ek nagte laat wakker was en Bybel gelees het, het die twee ouer mense ook gekla dat my bedlampie hul pla, met gevolg dat ek maar die gordyne rondom bed toegetrek het. Deur hierdie tyd het ek nie gekla  nie, want hulle moes sien ek word gesond en kan myself help, deur byvoorbeeld self te was en skeer, badkamer toe te gaan ens, en die kateter se vloei te stel volgens druppels per minuut. Ek het my liggaam en situasie begin verstaan en berus daarby. Die derde dag, Vrydag Okt 23 het ek vir die suster aan diens gevra om my klere en tas te pak want ek gaan die naweek ontslaan word. Sy het gelag, maar ek was vasbeslote, en het ook vir my familie gesê die internis moet my ontslaan. Laasgenoemde het my die Sondagmiddag, Oktober 25, weer ondersoek, was baie tevrede, en het vir ‘n finale bloedanalise voor ontslag gevra wat die Maandagoggend gedoen was en na bestudering van die uitslag, is ek ontslaan op ‘n lieflike sonskyn lentedag, wat seker die mooiste dag van my lewe was, want ek het met nuwe oë na die natuur gekyk en nooit voorheen dit so intens beleef nie. Ek was steeds baie swak, maar gelukkig. Ek is ‘n tweede kans op lewe gegun, en durf dit nie laat verbygaan nie.

Twee weke na my ontslag, was ek terug op kantoor, steeds swak, sowat 15kg ligter (ek het later nog 11kg verloor, namate my liggaam ontslae geraak het van die oortollige water en gifstowwe en my lewer- en nierfunksie drasties verbeter het en in Desember 2009 het ek begin met ‘n strawwe oefenprogram volgens ‘n daaglikse rooster, aangesien ek bloot nie kon wag vir ‘n nuwe jaar om aan te breek voordat ek my nuwe lewensvoornemens uitleef nie. My voorneme in prioriteitsvolgorde  was:

–     Eerstens, om daagliks tyd te maak vir God, Bybel te lees, te bid en  kerkbywoning, wat ek jare agterwee gelaat het asook verhoudinge;

–     Tweedens om my beroep, wat ook erg afgeskeep was trots, ywerig en gedetermineerd te beoefen;

–     Derdens om gereeld te oefen, en my liggaam op ‘n intense oefenprogram te dryf. Laasgenoemde was wel gevaarlik in die lig van my voorgaande gesondheidsprobleme, maar ek was so gedermineerd om die effek van die alkohol vir altyd uit my sisteem te kry, dat ek onderneem het om my liggaam verby my vorige limiete te dryf, veral op die gebied van fietsry, wat my sport was, en waarin ek sedert 1999 tot 2007 in verskeie renne deelgeneem het;

–     Laastens om tyd in te ruim om weg te breek in die natuur, te rus en te doen wat ek  geniet, sonder inspanning.

“Ek gun niemand dieselfde pad van angs en pyn waarop ek was nie, en as ek selfs net een kan help, om ag te slaan op die gevaartekens en dan van rigting te verander, dan het ek in my doel geslaag (Jak. 5: 19-20).”

Wat die Godsdiens gebied aanbetref, het ek alhoewel ek geweldig dankbaar was vir God se Genade en gereeld gebid en Bybel gelees het, dit aanvanklik baie moeilik gevind om kerk toe te gaan of openlik oor my ervaring te praat. Ek was skaam oor my verlede, selfbewus, uitgeteer nadat ek 26kg verloor het, trouens tot ‘n jaar gelede was ek op 62kg bykans 10kg ligter as tans. Ek het vir bykans agt maande letterlik soos ‘n kluisenaar geleef en net werk toe en soms dorp toe gegaan vir kruideniers. Ek het ook nie geweet in watter kerk ek tuishoort nie. Gedink ek moet gaan waar niemand my ken nie. In Augustus 2010 is ek op uitnodiging van my suster vir die eerste keer in baie jare kerk toe, en daarna meer gereeld. Namate my kerkbesoek verbeter het, het my verhouding met God ook verbeter, en gepaardgaande daarmee ook my gesondheid en werksomstandighede. Ek het die getuienis van baie mense gehoor en besef, ek mag eenvoudig nie stilbly nie. Ek gun niemand dieselfde pad van angs en pyn waarop ek was nie, en as ek selfs net een kan help, om ag te slaan op die gevaartekens en dan van rigting te verander, dan het ek in my doel geslaag (Jak. 5: 19-20). Dis ook die doel en beweegrede agter hierdie getuienis, ek voel nie net verplig nie, maar wil hieroor getuig, ‘n borrelende opbou soos ‘n vulkaan (1 Kor 15:10). Die afgelope twee jaar het wonderlike dinge in my lewe gebeur al was daar soms terugslae en teleurstellings, veral op fisiese gebied, soos toe ek in November 2010 en Januarie 2011 tydens twee 100+km fietsrenne kort voor die eindpunt uit energie gehardloop het, en moes tou opgooi, maar hierdeur het ek ook geleer om my liggaam se perke te respekteer. Die “terugslae” het my eerder sterker en meer doelgerig gemaak, en in ‘n sin was dit eerder ‘n “les in nederigheid”. Die afgelope ses maande het my liggaam en gesondheid op fisiese vlak so verbeter dat ek tans my persoonlike vinnigste tye oor die afgelope 13 jaar opstel en dit verbeter steeds. Sedert Februarie vanjaar benodig ek nie meer insulien toedienings nie, slegs tablet medikasie en my suikervlakke het grootliks genormaliseer, soms selfs te laag weens my strawwe oefenprogram. Die internis wie my tydens ‘n ontmoeting in Maart skaars herken het, beskou dit as ‘n wonderwerk, ek weet egter nou, dat God heeltyd in beheer was, en dat Hy Groter Planne vir my het (Jer. 29:11).

11 Comments

  1. Kenny, amen vir jou moed om te getuig. So sal jou las minder word terwyl jy dit met God en ander deel. ‘n Mens kan nooit ver genoeg val dat God jou nie kan bykom en optel nie. Mag Hy jou seën terwyl jy elke geleentheid gebruik om Sy naam te verhoog deur jou ondervinding!! Hy is nog nie klaar met jou nie.

  2. Francois du Toit

    Wonderlike getuienis – ons God is ‘n ongelooflike Vader/Pappa vir elkeen van ons – Niks kan ons van Sy liefde skei nie.

  3. Anneke Langenhoven

    Wonderlike getuienis en inspirasie vir ons almal wat al DAAR was

  4. Dankie Here dat ons nog sulke getuienisse kan aanhoor om u naam te verhoog. Kenny, ek is dankbaar om iemand soos jy te ken, en nog die moed het om jou beproewing met ons te deel. Mag die Here jou in Sy Hand van beskerming hou en bewaar teen die aanslae van die duiwel en spaar vir jou 2 pragtige kinders.

  5. Erika van Niekerk

    Wonderlike inspirasie! Alle eer aan God ons Vader.As jy jou lewe op Hom bou as jou fondasie, dan kan mens nie anders om Hom te loof en te prys nie.Omhels die tyd wat Hy vir jou gegee het!

  6. Die Here werk soveel wonders in ons lewe en dit maak my net trotser om te se jy is my broer. Prys die Here.

  7. My Pa is met dieselfde gediagnoseer, 20 oktober 2012 en het net agteruit gegaan, nadat die vorige hospitaal nie behandeling vir hom voorsien het nie. Hy het van daardie dag af net agteruit gegaan, en is 22 Oktober 2012 oorlede aan lewerversaking, en het presies dieselfde simptome gehad! In jou geval is dit ‘n wonderwerk dat oom oorleef het,as ek dink aan hoe my Pa gelyk het!**

  8. JOU SIMPTOME KLINK SOOS MY MA SIN SY IS NOU AL 1 WEEK IN DIE HOSPITAAL EN NIKS VERBETERING HET VANDAG VIR DIE INTERNIS GESê DAAR IS FOUT BY DIE MAAG EN DIT LYK OF DIT GESWEL IS, NOU SAL HULLE ‘N SONAR DOEN, MAAR INTUSSEN WEET EK VAN DIE NIER EN HARTVERSAKING OOK, EK WEET DIE HERE HET HAAR VIR ONS GELEEN, MAAR OP DIE OOMBLIK IS DAAR NET EEN RY VOETSPORE, WANT EK WEET HY DRA ONS, AL WAT EK KAN DOEN IS BID EN HOOP, DIT IS NOU IN SY HANDE XX

  9. GOEIE DAG, WEET IEMAND OF DIE
    BRIEF IN ENGELS GEKRY KAN WORD
    EK WIL DIT GRAAG VIR IEMAND STUUR. BAIE DANKIE

  10. Kenny my vriend…ek het met trane in my oe jou getuienis gelees en dit het my laat besef dat jy ‘n ware man is om dit te kon doen. Ek ken jou al vir baie jare, deur goeie en slegte tye en dit is vir my wonderlik om te kan sien hoe jy op gestaan het! EK IS BAIE BAIE TROTS OP JOU MY VRIEND! Jy is ‘n baie beter mens as ek en jy het guts wat ek jou beny! Jy moet weet ons deur staan altyd vir jou oop al is dit net vir ‘n koppie koffie. Ons is op jou deurstoep. Kom kuier! Liefde Brenda