Johnny Louw tussen sy Karoo-mense, boere en plaaswerkers vier fees!

Families van Juriesbaken en omgewing luister na watter boodskap Johnny vir hulle gaan bring.
Families van Juriesbaken en omgewing luister na watter boodskap Johnny vir hulle gaan bring.

[notice]RUTHI VAN DER MERWE het Johnny Louw se Karoo uitreikings die afgelope week in Middelburg en omgewing bygewoon. Sy sê die evangelis het ʼn groot indruk op die Karoomense gemaak en sal ons verseker nie weer dieselfde wees nie.  Sy deel haar indrukke van die geseënde week.[/notice]

Wat ʼn week van seëninge!  Ons staan verstom.  Dit het afgeskop met ʼn saamtrek by Juriesbaken, oom Louis Wilken se plaas.  ʼn Plaas waar daar ʼn aartappel fees gehou is met meer as 300 plaaswerkers en boere.

Met die vraag wat Johnny gevra het: “Wie is ek? Voor wie buig ek?”, het ons almal weereens tot die besef gekom om ons lewens in heroorweging te neem en ons tot God te keer.  Dit was  hartroerend om te beleef hoe 70 mense, boere sowel as werkers, kinders sowel as oumense, vrouens sowel as mans vorentoe beweeg en voor hul God gaan kniel. Ons buig voor U alleen ons God!

Evangelis Johnny Louw juig saam twee manne wat hulle harte by Juriesbaken op 7 Augustus 2013 vir die Here gegee het.
Evangelis Johnny Louw juig saam twee manne wat hulle harte by Juriesbaken op 7 Augustus 2013 vir die Here gegee het.
johnny1
Johnny en Nardo.

Dit is in hierdie sestig meter ry van knielende mense waar Johnny vir Ricardo, beter bekend as Nardo, ʼn serebraal gestremde seuntjie van ongeveer 5 jaar, ontmoet.  ʼn Stralende seuntjie wat weet hy is spesiaal! So spesiaal dat oom Jonna sommer ekstra tyd by hom spandeer het.

Donderdag oggend spreek Johnny die gevangenes van Middelburg toe en gee hulle hulle harte vir die Here.  Hier benader Johnny hulle as iemand wat self weet wat dit is om in hierdie omstandighede te wees.  Hy benader hierdie groep mense nie om hulle te veroordeel nie maar om hulle by te staan.  Hy laat die gevangenes agter as mense wat weer hoop het, mense wat weer ʼn doel het, mense  wat ʼn plan het om ʼn verskil in hulle omgewing te maak, vandag nog.

- Advertisement -

9 Augustus 2013. Vrouedag breek aan.  Middelburg se vrouens is merkbaar opgewonde om saam Johnny te kuier. Wat ʼn spesiale boodskap was dit nie.  ʼn Boodskap om ons vrouens te herinner om draers van liefde te wees.  Nie net vir jouself en jou gesin nie maar vir daardie kaalvoetseuntjie wat doelloos ronddrentel.  ʼn Ode aan Lana van Wyk.  ʼn Vrou wat haar liefdeshand uitgesteek het na ʼn grootoog seuntjie. (Lana van Wyk was een van daardie min vroue met sagte oë en ʼn sagte hart wat ʼn groot rol in Johnny se lewe gespeel het. Waar hy grootgeword het in harde omstandighede was sy een van die enkeles wat vir hom ʼn sagte hand gegee het.) Johnny herinner ons almal om ons liefdeshande uit te steek en ʼn verskil te maak met nie wat ons sê nie maar wat ons doen.  So word getroue vrouens herinner dat dit wat hulle doen nie tevergeefs is nie, nie vergete lê in gister nie, maar dat dit soos Lana ʼn nasie kan laat omkeer.  Hoop vir  ʼn Johnny-kind gee wat vandag regoor die land mense wakker maak om op te staan en ʼn verskil te maak, jou hart oop te maak en uit te gee!

Johnny Louw saam Hendrik Spiers van die Ashoop Bediening in Middelburg.
Johnny Louw saam Hendrik Spiers van die Ashoop Bediening in Middelburg.

Ons besoek Hanover en vind vir Charlie Brown by sy petrolstasie.  Dié, Charlie Brown.  Vind die heerlikste warmhart koffie en kuier saam sy vriend oom Johannes Retief.  Johnny kuier by sy karoo-mense waar wildvreemdes onmiddellik familie raak met wie jy nooit weer kontak verloor nie, dit is wie Johnny is, altyd gereed om vir iemand te bedien.

Reg vir New Holme Gasteplaas.  Hier kom vanoggend 150 mense bymekaar, gereed en ontvanklik om te hoor wat die boodskap is vir Hanover.  Weereens herinner Johnny ons. Wie is jy? Is ons die Lana’s of is ons diegene wat hulle honde binne laat slaap en weerlose kinders in ʼn koue nag buite?  Is ons diegene wat ons status vasgryp en liefde verloor? Ons almal word tot stilstand geruk. Word tot stilte geroep. Ons is hier om ʼn verskil te maak nie gister of môre nie maar nou. Ons is kosbaar in God se oë en gee kosbare liefde uit.

Dankie Johnny vir die boodskap in Middelburg en omgewing.  Dankie vir ʼn uitroep van: “Wie is ek? Voor wie buig ek en wat maak ek?!” Dankie vir jou lewe waar jy omgee vir die straatkind wat skaam om die hoek loer. Dankie dat jy stilstaan by die Nardo’s. Dankie vir jou hand van liefde vir die veroordeelde in die tronk, dankie vir die vuur van hoop wat in sy oë opvlam.  Dankie vir die stilstaan by petrolstasies waar hoë geplaastes eers moet wag. Dankie vir gee gee gee.

Click to join movement

Daarom meer nog dankie vir die Lana’s wat ín ʼn klein kaalvoet seuntjie die vlam van hoop laat brand het.  Middelburg sal daarom elke Vrouedag vir jou Lana vereer vir duisende kaalvoetkinders se lewens wat daagliks onherroeplik verander word.  Dankie Lana.

2 Comments

  1. Pingback: tcn.org.za – Johnny Louw Tussen Sy Karoo-Mense, Boere En Plaas Werkers Vir Fees.

  2. Jy weet, die anderdag sien ek twee klein seuntjies op straat, duidelik ondervoed en baie vuil. nadat ek vir hulle bietjie kos, paar toffies en elkeeen ‘n lemoen gekoop het. besluit ek om ook ‘n koekie seep te koop met die duidelike oodrag om te gaan was. Daardie aand kan ek nie slaap nie, want ek dink aan hierdie twee klein seuntjies met die vuil kniekoppe en nekke. Ek is hier in my warm bed nadat ek ‘n lekker warm bad gehad het. Wat dink van myself? om in hierdie koue weer in koue water te was moet iets vreeslik wees. Waar kry sulke klein seuntjies warm water om te was? Al het hulle seep is dit verskiklik koud sonder warm water om te was. Volgende keer sal ek heeltemal anders moet dink, dit is nou baie duidelik.