Nuwe boek: Leon de Villiers — Oomblik Van Waarheid

Kerke: ’n baken van hoop?

Waar is die hoop? Mense het rede om tans bedruk en swaarmoedig te wees, weens soveel uitdagings soos armoede, werkloosheid, regeringskorrupsie, misdaad, droogte, haat, rassisme, grondhervorming, egskeidings en depressie, waarmee hul daagliks worstel.

Om dit als te kroon is die einste plek — die kerk, waar mense gewoonlik hoop gevind het, ook onder verdenking. Met media opskrifte soos: “Loop die kerk leeg?” en “Lidmate gaan loop oor selfdegeslag verhoudings” begin mens wonder: Waar is dié hoop?

Leon de Villiers vra juis sulke moeilike vrae op ’n deernisvolle wyse in sy nuwe boek: Oomblik van Waarheid waarin hy wil weet hoekom mense die einste plek waar hul hoop gevind het, nou verlaat. Hy vra met sorg, vrae oor die mens se hedendaagse siening van geloof en die kerk se rol om ’n boodskap van hoop te bring.

- Advertisement -

Wie is die skrywer agter die boodskap?
De Villiers het 20 jaar gelede teologie te Rand Afrikaans Universiteit (RAU) studeer, waarna hy die sakewêreld as finansiële beplanner, bestuurder en bemarker betree het. Hy is tans werksaam met die opleiding en ontwikkeling van werknemers in korporatiewe maatskappye. De Villiers is ook die pa van twee dogters. Dit is sy begeerte om te sien hoe God se Woord die land en sy mense se harte weer verander. “Ek wil graag sien hoe die kerk radikaal weer hervorm en terugkeer na die Bybel as hul die enigste maatstaaf.”

- Advertisement -

Waar het die idee vir die boek ontstaan?
De Villiers het ’n mannekamp einde 2004 bygewoon waartydens Amelia Botha oor hom geprofeteer het. “Sy het gesien hoe ek ’n boek skryf,” sê hy. Begin 2005 het ʼn groot gemeente in Nelspruit De Villiers gevra om hul opleiding, die skryf van kursusmateriaal en die aanbiedinge daarvan, te behartig. Dit was die begin van ʼn 12-jaarlange proses van navorsing en aanbiedinge in kleingroep met ’n vraag-en-antwoord model. Dit was als voorbereiding vir die boek en De Villiers het uiteindelik die boek in 2017 geskryf.

Wat is die doel van die boek?
“Die boek is ʼn oproep om dit wat ons glo weer dieper te bekyk en teen God se Woord te toets!” sê De Villiers, “en ons eie sentimente en beginsels ondergeskik te stel aan die gesag van die lewende God.” Die boek poog om met die intensiteit waarmee ’n leeu op sy prooi fokus, maar sonder enige vrees of bedreiging, mense se beginsels onder die vergrootglas te plaas. “Dis net so bietjie meer 500 jaar sedert Martin Luther sy 95 stellinge teen die deur van die Schlosskirche in Wittenberg vasgespyker het, en ook die norms van sy dag met goeie rede bevraagteken het.” Dit was dit deel van die Protestantse Hervorming. “Wat sou hervorming vandag van Suid-Afrika vra?” wil hy weet.

Mariëtte Snyman, skrywer van Rooi Rose het in haar ondersoeke reeds in 2009 probeer vasstel wat die oorsake van die dalende bywoningssyfers van tradisionele Afrikaanse kerke is. Sy voer sterk redes aan vir ’n dramatiese kerkhervorming, soortgelyk en selfs meer omvattend as in die 16de eeu. “Het die hervorming dan nie geslaag nie? Of het mense van die hervorming afgewyk? Waarom sou daar selfs ʼn groter hervorming vandag nodig wees? Die kerk is voor ʼn kruispad,” sê De Villiers.

- Advertisement -

Kenners se mening
Dr Arno Van Niekerk — “Nugtere selfondersoek het in alle gevalle ‘n positiewe uitkoms. Ons, veral ons Afrikaners, is lief om vas te kleef aan persepsies en sisteme, en hou nie sommer van verandering nie. Ons hou nie daarvan as ons ‘boot’ geskud word nie. Tog sê die Woord ons moet ons harte ondersoek (Psalm 139:23) en beproef alle dinge; behou die goeie (1 Thessalonians 5:21). Ons is vandag by ‘n plek duidelike antwoorde oor die pad vorentoe, nodig is. Goeie antwoorde begin met goeie vrae. Dis hoekom die boek so treffend is. Dit vra belangrike vrae oor beide ons fondasies as gelowiges in Suid-Afrika sowel as ons huidige dilemmas. Met ‘n eerlike ondersoek lei die boek die leser op ’n ontnugterende maar ook gerusstellende pad. Feite en goeie navorsing ontbloot geraamtes in die kas — maar wys ons weereens om ons met vrede te anker in die Woord van God. Ek het groot waardering vir die skrywer se gebalanseerde tog nie-kompromerende benadering om die waarheid te vind (2 Timothy 2:15). En dit, nie om verdeeldheid te bring nie, maar eintlik genesing en versoening in waarheid én liefde. Mag die kerk, terwyl ons by ‘n groot kruispad is, die regte rigting kies, en gou ook, want ons keuse affekteer nie net Suid-Afrika nie, maar ook die ganse kontinent. Dít is inderdaad my gebed.”

Dr Adele Neveling — “Elkeen van ons word daagliks gekonfronteer met oomblikke van waarhede wat ons lewe in ‘n mindere of meerdere mate kan beïnvloed. Maar wat as só Oomblik van Waarheid ’n golf van openbaring word wat elke Afrikaner nodig het? De Villiers plaas ’n vergrootglas in elkeen se hand, en alhoewel self-ondersoek aangemoedig, en selfs vereis word, word elke leser gekonfronteer met die waarheid. Elke hoofstuk is ‘n tree nader aan ‘n persoonlikke reformasie met die potensiaal om die hele Afrikaner kerk te transformeer… dis jou keuse of dit 500 minute, 500 dae of nóg 500 jaar gaan vat.”

Vir meer inligting of navrae oor die boek of gasspreker kan Leon de Villiers by https://www.leondevilliers.com/ bereik word.

Comments are closed.