займ на карту срочно

HomeNewsEastern Cape‘n Kosbare klippie van Middelburg

‘n Kosbare klippie van Middelburg

 

klippie2
Deur Fanie Laubscher

“Watse klippie lê op jou lessenaar?” Een van my kliënte vra die vraag. Ek kyk na die klippie en glimlag. Voordat ek kan antwoord besef ek nou vir die eerste keer die dankbaarheid en ervaring wat die klippie verteenwoordig.

Hierdie jaar het ek my seuntjie saamgevat na die Mighty Men Konferensie in Middelburg. Die gedagte was om hom saam te vat omrede ek dit graag saam met hom wou beleef, maar ook omrede ek gereken het dat dit ’n goeie ding sal wees dat hy identifiseer met so iets. Dat hy ook sien sy pa identifiseer met die samekoms van manne voor God. Die belangrikste bly steeds God.

My seuntjie is nou 7 jaar oud. Moontlik te jonk vir so iets, of moontlik juis die regte tyd. Hy absorbeer en neem soveel dinge in op hierdie ouderdom. Wat sou ek hom kan leer uit so iets, of eerder wat sou hy my leer.

Ek wil nooit in ’n situasie kom dat ek geleenthede of emosies najaag om God te ervaar nie. Ek wil graag God ervaar in elke moontlike oomblik. Ek wil egter ook nie graag ’n geleentheid mis om in samehorigheid saam met ander gelowiges ’n ervaring met God te beleef nie. Soos ek soms ’n stap op die strand geleentheid skep om in gesprek met God te wees. Dae, ure en sekondes hardloop so vinnig verby en is stilword oomblikke saam met God net al meer kosbaar.

‘Alleen’
Daar tussen duisende ander manne ervaar ek stilword “alleen” tyd saam met God. Die ouens se samehorigheids gevoel dra by tot my ervaring van ’n lewende God. Elkeen ervaar en beleef God op sy eie manier. Nog meer, hierdie jaar met my seuntjie daar het dit ’n dieper betekenis vir my gehad.

Sy klein handjies, lyfie en ogies ’n herinnering aan die broosheid voor God. ’n Herinnering vir my om met eerlikheid en opregtheid God te aanbid. Ek sien hoe hy vir my kyk en vir al die ander manne rondom ons. Die verantwoordelikheid wat ek en die manne rondom my het om vir hom te wys dat ons ‘n lewende God aanbid en dat ons dit met opregtheid moet doen.

Ek hoop dat dit ’n identiteits-gevoel by hom skep. ’n Hieraan behoort ek gevoel. Die een spreker stel voor dat elk ’n klip gaan neersit aan die voet van die kruis. Verteenwoordigend van jou gesin aan die voet van die kruis. Die volgende dag stap ons daar en ek tel ’n klip op en Lihan vra of hy ook ’n klip kan gaan neersit. Iets anders gebeur in my denke en ervaring as my seuntjie dit doen. Ek hou hom vas en doen so sagte gebed terwyl ons dit neersit. Ons twee stap en gaan sit in die veld. Ek lees sommer Psalm 23 vir ons. Ek weet nie wat Lihan inneem nie, maar iewers lê ons dalk ’n grondslag.

klippie

Iewers skep ek en hy dalk ’n lewenservaring van hoe om te leef as Christene. Dat dit deel van ons lewensstyl raak en nie net ’n geloof raak nie. Ek hoop om die samehorigheidservaring te kan sien in ons kerk en ons gemeente. Ek dink ons manne hoor en beleef so baie. Dit is soos ’n goeie spanpraatjie voordat ons uitdraf op die rugbyveld. Tydens die “game” is dit soms maklik om die spanpraatjie en die strategië te onthou. Soms as dinge moeilik raak klink dit onmoontlik om te volhou.

Hoe praat mens oor die goed, sonder dat dit ’n gesprek oor jou ervaring raak, terwyl die fokus deurentyd op God moet bly en sy onverstaanbare genade.

Gebed
Terwyl die manne sing, maak ek stadig my oë toe en vra biddend dat hierdie tog vir God aanneemlik is. Dat hierdie klein gebaar van ‘n paar van God se seuns vir Hom ‘n warm gevoel in Sy hart sal laat.

“I am a child of God”; ek trek my seuntjie nader, tel hom op en ons gee mekaar ‘n drukkie terwyl ons saam sing. ‘n Oomblik wat ek nie maklik sal vergeet nie.

Hierdie moet reg wees, hierdie moet sekerlik wees soos dit moet wees. Klomp manne saam in harmonie, in eensgesindheid. Elk ervaar die oomblik anders as die volgende een. Elk sy eie verhouding met ’n lewende God. Elk opsoek na die weg om die beste moontlike pa vir sy kinders en man vir sy vrou te wees.

Terwyl ons daar staan, kyk Lihan af en tel ‘n klippie op. “Pappa kan ek dit saamvat”

Ons hoef nie altyd die groot goed te soek nie. Soms en dalk meer as gereeld, is dit die oënskynlike klein goedjies, die fluistering in die wind, wat die groot impak in ons lewens veroorsaak.

Terwyl ons wag en soek na iets groots om te gebeur, mis ons dalk die klein klippie-oomblikke in ons lewens. Dalk moet ons vir ‘n oomblik stil word en luister vir die fluistering. Afkyk en die klein klippie optel en sien hoe daardie klein oomblik jou lei na groot gewaarwording.

Ek is so dankbaar vir hierdie klein klippie op my lessenaar.

image_pdfimage_print
 
 

PLEASE SCROLL DOWN TO MAKE/VIEW COMMENTS


ADVERTISEMENTS:
Jesus Is Enough Gift Pack
Party Stuff
Accommodation Directory
Puppy Classes



COMMENTING GUIDELINES:

You are welcome to make comments that add value to the article above and to engage in thoughtful, constructive discussion with fellow readers. Comments that contain vulgar language will be removed. Hostile, demeaning, disrespectful, propagandistic comments may also be moved. This is a Christian website and if you wish to vent against Christian beliefs you have probably come to the wrong place and your comments may be removed. Ongoing debates and repetitiveness will not be tolerated.
 

7 Comments

  1. daleen says:

    Baie, baie goed!!

  2. Ronnie says:

    Ek en Rudi , hy is nou 10 , het die jaar ons 3de KMMK saam mee gemaak en ek was net soos jy eers bekommerd dat hy dalk te “klein” was en dalk nie die ervaring soos ek mag beleef nie. Ek was egter stom geslaan. Tydens een van Retief Burger se oorgawe liedere rol daar ‘n paar trane oor my wange , hy kyk na my met sy groot bruin oe , staan nog nader en gee my ‘n stywe druk asof hy my binneste lees. Ek en Rudi mis KMMK vir niks …dis ons tydjie alleen , saam met werklike manne en met ons God! Amun!

  3. Stuart Wragg says:

    Blessings….a very good story that resonates….

  4. Stuart Wragg says:

    LeShana haba’a beMiddelburg…next year in Middleburg

  5. Ferdi says:

    Ek en my seun Olaf was ook daar en ons het vanaf die eerste geleentheid op Renosterfontein plaas gevind het, nog nie een gemis nie. Elke keer was dit ‘n besondere ervaring saam met hom en ons hoop om dit nog lank in die toekoms te kan doen. Dit is net asof God nog nader aan jou is daar in die wonderlike grootsheid van die wye oop ruimte van die Karoo.

  6. Tersia says:

    Wat ‘n wonderlike ervaaring saam met jou seun (Lihan) !!!!! Bid vir julle net ‘n wonderlike toekoms toe !!!!!

  7. Francois du Toit says:

    Was ook daar saam met my tweelingseuns, Franco & Stephan (12jr). Dit was wonderlik om saam met hul God te loof en prys met sang – die lofprysing met musiek was vir my persoonlik’n hoogtepunt – veral as ek my seuns styf kon vashou terwyl ons saam sing. Wat ‘n wonderlike voorreg om ‘n aardse pappa te kan wees vir twee van God se kinders.