NG Kerk: Gays sal moet wag

ngksynod2015
NGK Sinode 2015 (FOTO: Instagram).

Oorspronklik in Netwerk 24 gepubliseer

Die NG Kerk hou by die besluit van sy algemene sinode om gay lidmate op elke vlak te verwelkom, maar die uitvoering daarvan is vir twee jaar uitgestel.

Dit beteken gay proponente mag voorlopig nie in die amp van leraar georden word nie, tensy hulle selibaat is.

- Advertisement -

Gay paartjies se burgerlike verbintenis word voorlopig ook nie erken nie. So ’n verbintenis mag ook nie deur ’n leraar voltrek word nie. 

- Advertisement -

Na verneem word het die moderamen van die algemene sinode, wat in Edenvale vergader, Dinsdag ná ’n “oop gesprek” oor die gees waarin en manier waarop die algemene sinode die besluit geneem het, besluit dit staan.

Die praktiese uitvoering van die besluit word egter gestaak hangende die uitslag van die appèl.

Dit sal op die vroegste in 2017 wees wanneer die volgende algemene sinode besluit oor die appèlle wat ontvang is.

- Advertisement -

Intussen is dr. Johann (Tokkie) Ernst, aanvanklik een van die sekondante van die voorstel wat tot die kerk se gay-besluit gelei het, se naam Dinsdag verwyder as ’n sekondant.

Sy naam is in die voorlopige notule van die sinode aangeteken as sekondant, maar is verwyder voordat die notule goedgekeur is.

Proponent Hennie Pienaar, een van die leiers in die stryd om gewone regte en voorregte vir gays in die NG Kerk, sê hy is teleurgesteld oor die appèl, maar is steeds baie positief oor die besluit.

“Dit is teleurstellend dat die kerk so ’n besluit, wat hom uiteindelik weer relevant in die samelewing maak, tydelik kon stuit.”

Pienaar sê hulle is egter nie negatief nie en hef aan lê voor.

“Dit motiveer ons om die volgende twee jaar bitter hard te werk, op grondvlak, sodat lidmate ons siele en harte sien, sodat hul vooropgestelde idees oor waarom hulle ons wil uitsluit, sal val. Sodat hulle besef dis ’n onreg. Dis eers wanneer jy met gay mense te doen het, hul stories hoor, hul harte en siele sien, dat jy besef hulle is net sulke mense soos ek.”

Pienaar sê hy sien uit na die volgende algemene sinode in 2017.

“Ons hou reeds partytjie, al is die besluit gevries. Minstens is daar iets om te vries. Voor die sinode was daar niks. Dis soos om uit te sien na ’n vleisbraai, later. Jy het die gevriesde tjops, al kan jy nog nie dadelik gaan braai nie. Ons sien uit na ’n tamaai braai en álmal is genooi!”

3 Comments

  1. Is dit dan nie die kerk se taak om die samelewing na die Skrif se norme te lei nie? Nou saal ons gemeentes en lidmate op om die onskriftuurlike norme van minderhede te moet bedink en beredeneer, terwyl samelewings toenemend worstel met ‘n gebrek aan Rots-gefundeerde etiek, Skrif-gerigde norme en ‘n werklik Godvresende moraliteit.

    • Ja nee, lyk of die moderne kerk se taak is on die kerk na die norme van die samelewing te ly is, en om hulle te laat wys dat God se woord maar net n verouderde gidslyn is.

    • Absoluut! Mag ons tot ons sinne kom en God se Woord die hoogste agting gee. Vir wat word daar tyd gemors met ‘n debat oor die onderwerp? Het ons dan kop verloor. Is Christus dan nie die hoof van die Kerk van Christus nie! Waarmee is ons besig. Dis waarlik godslasterlik om hierdie waters in te gaan. Is God dan nie meer ons God nie? Is Sy wet nie meer ons wet nie? Of is ons nie meer die Kerk van God nie, maar ‘n Kerk van die anti- Chris!!!