NG Kerk voer gesprek met EFF

Nelis van Rensburg (NG Kerk Moderator) en Julius Malema (EFF leier).

Oorspronklik gepubliseer in GrensPos – Nr 2 25 Januarie 2018 (NGK Ooskaap nuusbrief)

Gustav Claassen, algemene sekretaris van die algemene sinode, vertel van ‘n ontmoeting tussen afgevaardigdes van die algemene sinode en die EFF:

In ‘n poging om met politieke partye en ander rolspelers in gesprek te tree en ons getuienis te lewer, het die NG Kerk op 19 Januarie ‘n ontmoeting met die EFF gehad. Dié geleentheid het op kort kennisgewing by die kantore van die EFF in Braamfontein, Johannesburg, plaasgevind. Die NG Kerk is verteenwoordig deur Nelis van Rensburg, Dirkie van der Spuy en Gustav Claassen. Bykans die hele EFF-leierskap onder leiding van mnr Julius Malema was teenwoordig. Die afvaardiging het getuig van die roeping van die kerk om ‘n morele kompas vir die nasie te wees.

Die NG-afvaardiging het op vier temas gefokus:

  1. Versoening en groter begrip tussen die mense van SA.
  2. Ekonomiese transformasie sodat die gaping tussen ryk en arm kan verklein. Hier is onder meer sterk gefokus op die rol van onderwys.
  3. Grondhervorming en voedselsekuriteit.
  4. Misdaad, waaronder aanvalle op plase, en korrupsie. Baie landbouers is lidmate van die NG Kerk. Die kerk is diep bekommerd oor die blootstelling van ons plaasgemeenskappe aan misdaad.

Nadat gesprekke oor dié sake gevoer is, het ons met gebed afgesluit. Groot waardering is uitgespreek vir die kerk se besoek en die gebed wat gedoen is. Die kerk is genooi om as tussenganger op te tree waar organisasies met die oog op voorstelle en oplossings met die party in gesprek wil tree. Ons meen hierdie besoek het ‘n belangrike bydrae gelewer in die afbreek van stereotipes. Dit is deel van die roeping van die kerk om te getuig van die liefde en vrede van Christus waar onmin en misverstand heers. Met hierdie gesprek is daar beslis daarin geslaag.

Click to join movement

Comments are closed.