Roepman, die fliek

Movie review deur Danie Mouton

ROEPMAN – Film met Paul Eilers as regisseur en gegrond op Jan van Tonder se gelyknamige boek.

Wat ’n wonderlike ervaring om ’n Afrikaanse fliek van Roepman se gehalte op die wye doek te sien.  Dit is ’n fliek wat mens diep laat dink.

Die Roepman, Joon, het ’n nederige werk.  Hy maak mense betyds vir hulle skofte wakker, die laagste vlak waarop ’n blanke in die sestigerjare in die SA Spoorweë en Hawens kon werk.  Joon is boonop skeel – hy kyk boontoe om vorentoe te kyk. Iemand sê hy kyk na God toe om die mense op die regte pad te roep.  Dit is omtrent wat Joon doen.  Hy het ’n geestelike invloed in die gemeenskap wat selfs bedreigend vir die kerk voorkom.

Die karakters word lewensgetrou uitgebeeld.  Talle mense wat nog onthou, vertel dit presies soos dit in ’n Spoorwegkamp gegaan het.  Waarskynlik is dit soos baie Afrikaners geleef het.  ’n Streng, outoritêre pa wie se woord wet is.  Dans is uit, daarom kan sy tweeling nie op hul mondigwording dans nie.  Timus, die jongste seun en dromer, is gereeld by pa in die moeilikheid.  “Die lewe is nie ’n storie nie, Timus” sê pa meer as een keer.  Pa wil realisties wees en by die feite bly, en sal dit by sy seun inslaan, indien nodig. Maar natuurlik is pa verkeerd.  Die lewe is ‘n storie.  Hoe ons die feite interpreteer, binne watter storielyn ons daarmee leef, dit maak die verskil.  Daar is Verwoerd se storie, sy interpretasie van die lewe. Timus se pa aanvaar dit klakkeloos.  Dit lei tot onmenslike optrede teenoor bv. die huishulp.

Dromer Timus is eintlik hoogs geïunteresseerd in die lewe, en weet dikwels beter as enigiemand anders wat die feite is.  Hy hang gereeld aan ’n tak en kyk onderstebo na die wêreld.  Hierdie ander perspektiewe, en vreemde kante waaruit hy die lewe beskou, veroorsaak dat baie van die vaste sekerhede, waarop ander bou, vinnig ontmasker word as groewe waarin mense verkeer, interpretasies waaruit hulle nie kan loskom nie, en wat hom op hulle wreek.  Soveel mense kyk op soveel maniere na die lewe en almal dink hulle is reg.  Jou eie oortuigings kan jou gevange hou.  Dan het jy die roepman nodig wat jou kan lei om anders te kyk, mense raak te sien en menslik te wees.

Een van die karakters, Erika, poog om selfmoord te pleeg deur haar tydens ’n erediens aan die tou wat die kerkklok lui, op te hang.  Die kerkklok is bedoel om mense na die Here te roep, om hoop uit te beier.  Die manier waarop die kerk funksioneer, kan ook verslaaf, veroordeel en liefdeloosheid uitstraal.  Die kerk kan jou na hooploosheid lei.
Tog veroordeel die verhaal nooit nie.  Dit ontbloot die menslike kondisie op ’n eerlike manier.  En dit vertel die harde verhaal hoe kinderlike onskuld algaande deur die hardheid van die lewe weggeskuur word.  Met die versugting dat ons almal sal leer om op die onortodokse maniere van kinders na die wêreld te kyk.  Dit kan ons vryer maak.

Daar’s nog baie om te sê.  Mens kan nog praat oor die roepman wat Timus in ’n groot oomblik van skande te hulp snel en sy skande (hy het sy broek van angs natgemaak) in ’n poel afwas.  Dit lyk baie soos ’n doopseremonie, en help mens sommer die doop beter verstaan.  En dan Joon wie se ma gedurig klippe optel.  Die roepman moet boontoe kyk om vorentoe te kyk, sodat hy die mense kan roep. Sy neem die klippe uit sy pad sodat hy nie struikel nie.

Die taalgebruik is, wel, uit die sestigerjare en getrou aan die konteks waaruit dit kom.  Beslis nie vir softies nie – nes die lewe in die sestigerjare in ’n spoorwegkamp in Durban.

O ja, natuurlik is die lewe ’n storie.  Die vraag is watter storie jy kies en wat jy toelaat om jou lewe te stuur.

Comments are closed.