Selfmoord neem dramaties toe in Japan

Die selfmoordsyfer in Japan het skerp gestyg teen 'n agtergrond van sielkundige lyding na die groot natuurramp en kernkrisis in Maart.

Deur Tobie de Wet

Die selfmoordsyfer in die noordooste van Japan het die afgelope 100 dae met 39% gestyg en die owerheid het gewaarsku die land word deur ’n krisis van geestesgesondheid in die gesig gestaar.

In die res van dié land, wat bekend is om sy hoë selfmoordsyfer, het die getal selfmoorde sedert 11 Maart, toe ’n aardbewing en tsoenami Natori, in die Mijagi-provinsie in die noordooste van die land, byna vernietig het, met ’n vyfde gestyg in vergelyking met die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

- Advertisement -

Die Japanse regering het die naweek ’n verslag uitgereik oor onder meer die sielkundige gevolge van dié natuurramp. Die regering erken daarin sy land se inwoners sukkel om dit te verwerk.

Die voortslepende kernkrisis vererger die situasie. Die regering waarsku in die verslag Japan word nou ook deur ’n krisis van geestesongesteldheid in die gesig gestaar.

Dit was eergister 100 dae sedert die aardbewing, wat nege op die Richterskaal gemeet, en gevolglike, verwoestende tsoenami die noordooste van dié land opgefrommel het.

- Advertisement -

Sielkundiges wat aan die verslag gewerk het, sê hulle meen die oënskynlike gelatenheid waarmee die Japannese in die eerste weke ná die ramp met opruimingswerk begin het, was bloot ’n “masker” van post-traumatiese stressindroom.

Die jongste selfmoordslagoffer is ’n melkboer in Soma, in die omgewing van Foekoesjima, die beleërde kernaanleg, wat hom opgehang het omdat hy sy melkbeeste moes verkoop weens ’n verbod op die verkoop van melk uit dié gebied.

Die verslag lui verder buiten die geweldige stres waaronder die mense in die noordooste van Japan die afgelope drie maande geleef het, ervaar hulle ook skuldgevoelens en erge weemoed oor die groot aantal mense wat in die natuurramp omgekom het.

Die skok, skuldgevoelens en trauma is vererger deurdat baie van die oorlewendes die lyke van hul naasbestaandes en vriende moes uitken.  Baie Japannese ly nou aan chroniese depressie en ’n soort geestesversteurdheid omdat hulle sukkel om hul verlies en hartseer te verwerk.

Luidens die verslag het 3 281 mense in Japan verlede maand selfmoord gepleeg. Dit is 499 meer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Selfmoorde in Tokio het met 27% gestyg. Japan het een van die hoogste selfmoordsyfers ter wêreld ná Litaue, verskeie voormalige Sowjet-state en Suid-Korea. Verlede jaar het 31 690 mense in Japan selfmoord gepleeg. In die laaste tien jaar het meer as 300 000 Japannese selfmoord gepleeg.

Selfmoorde word dikwels verbind met nasionale trauma.  Die selfmoordsyfer in Japan het in die laat jare 90 van die vorige eeu begin toeneem weens bankrotskappe en werksverliese.

Click to join movement

Meer as 28 000 mense is in die ramp op 11 Maart dood en 95 000 geboue en 23 spoorwegstasies is verwoes.  Die ramp het ook 16 dorpe onbewoonbaar gemaak. Meer as 90 000 mense leef nog in skuilings.

Die Japanse bevolking is in die algemeen ook teleurgesteld in en kwaad vir sy regering omdat hy eers verlede maand “die waarheid” oor Foekoesjima uitgevind het en dis nou, naas die Tsjernobil-kernramp van 1986, die grootste in menseheugenis.

Comments are closed.