Artful faith: Die profetiese kunstenaar met ‘n leervoorskoot en deesdae ook joernaal in die hand!

’n Rubriek waarin Marzanne Slabbert die enigmatiese samesmelting van geloof en kuns in Suid-Afrika ondersoek. Kom saam met haar op ‘n artistieke reis en verken die baie maniere waarop God die visuele kunste gebruik!

Ek het Neil vir die eerste keer raakgeloop in 2023 by RE-Frame, ‘n Doxa Deo kunsuitstalling en -konferensie, in Pretoria-Oos. Neil het in lengte uitgetoring bo die ander kunstenaars en was meegevoer-besig agter sy esel om ‘n menssehart in ‘n dor woestyn uit te beeld – “Hallo, ek is Neil Breebaart”… 

Later daardie naweek het ek die voorreg gehad om hom weer in aksie te sien. Dié keer op die verhoog tydens die aanbidding. Terwyl ‘n stuk of vyftig gehoorlede in die donker hul Wegmaker & Wonderwerker geloof en prys het, het Neil moeiteloos met ‘n stuk houtskool in die hand in rekordtyd ‘n geinspireerde kunswerk die lig laat sien. Ek onthou iets aan sy kuns was bo-natuurlik. Dit het gevoel vasgevang; versreels en notebalke visueel voltooi… Dit was duidelik – elke kwashaal en houtskoolstreep was die gevolg van ‘n lang pad deur talle dale en menigte valleie wat op daardie aand, op ‘n misterieuse wyse, uiting gekry het op ‘n skilderdoek. 

Dalk was dit net my eie indrukke en onthou van Neil, maar vir my is dit Neil Breebaart: Die man met ‘n leervoorskoot, oë vol van God se liefde; ‘’n moderne dissipel-kunstenaar wat ander graag deur skilderye en sketse vertel waar die waters van lewe borrel. 

- Advertisement -

Robert, Riana, Neil en Heike Breebaart

Vra jy hom hoe hy hom self beskryf, antwoord hy sonder skroom: “Ek is heel eerstens ‘n kind van God, huweliksmaat, pa en kunstenaar.  Ek is die eienaar en stigter van Art Refined. My liefde vir Jesus Christus, mense en die kunste het my tot op hierdie punt gelei, waar ek en my vrou Riana, Art Refined (‘n NPC maatskappy) in 2019 begin het. Ons grootste hoop en gebed is om die Woord van God deur kuns aan die nasies te bring. Ons glo dat God wil hê dat die kunste tot Sy oorspronklike intensie herstel word om ‘n seën vir die liggaam van Christus te wees.”

En sy hartsbegeerte? “Dat my kunswerke sal getuig van my liefde vir YHVH, en van Sy onpeilbare liefde vir ons as Sy kinders.”

- Advertisement -

Soos ‘n spieel reflekteer Neil se kuns altyd jou eie reis en bring jou willekeurig (of onwillekeurig) voor ‘n reeks vrae. Dog eindelik begelei die Gees as Meester-kunstenaar jou ook tot by die Antwoord; tot by die oorwinning van Jesus en jou nuwe identiteit.

“Ek is al jare lank ‘n kunstenaar en beoefen dit al van ‘n baie jong ouderdom. Ek het my hele skoolloopbaan kuns as vak gehad, en het nagraads my Diploma en Hoër Diploma verwerf in Textielontwerp aan die Pretoria Tegnikon. Ek skilder al profesioneel vir meer as vyf en twintig jaar en is vir die laaste vyf jaar in voltydse bediening met Art Refined – Art with a Message (Kuns met ‘n Boodskap). My werk kan gesien word op ons webblad – www.artrefined.co.za

Neil is gebore en getoeë in Pretoria, maar dertien jaar terug het hulle gaan wortel skiet in die Kaap. Deesdae is hulle inwoners van Somerset Wes. 

“Ek en my pragtige vrou, Riana, is hierdie jaar 27 jaar getroud! Ek het twee wonderlike kinders. My seun,Robert, is 25 en studeer ingeneurswese op Stellenbosch en my dogter,Heike, is 23 en begin hierdie jaar Teologie studeer met spesialiseering in berading by SATS.”

‘n Doelgerigtheid is altyd tasbaar in Neil se woorde wanneer mens met hom gesels oor Art Refined. Asof daar ‘n groot Dryf agter dit is en waarvoor hy en sy gesin al baie prys gegee het, maar nie sonder die wete dat dit mildelik beloon sal word nie: “Art Refined gaan oor veel meer as om net mense met visuele mooi kunswerk te voorsien, huise en ruimtes te vul met esteties pragtige kuns, of, om mense in ons werkswinkels te leer hoe om blote kunstenaars te wees. Ons roeping is deels vir almal om te ontdek en te waardeer wat ‘n wonderlike en unieke taal KUNS is. Dit is ‘n instrument wat God geskep het en wil gebruik – om waarheid in die lewens van baie te spreek! God as ons Skepper, Hy het elkeen van ons na Sy beeld gevorm as ‘n skeppende wese, Hy is die Meester Skepper. Daarom is ons kreatief en het ons kreatiwiteit in ons in geweef. 

En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape..” (Gen 1:27) Ons is almal geskep in die beeld van God (‘n kreatiewe God), Sy kreatiwiteit vloei deur ons are. Die kunste het die vermoë om baie meer te doen as net mooimaak — dit kan genees en inspireer, ons kan dit gebruik om te kommunikeer, dit is ‘n manier waarmee ons God kan aanbid, ‘n uitlating van ons emosies, en soveel meer. 

Wat my baie hartseer en kwaad maak is hoe satan kom steel en verwoes het deur die kunste, hy ken die waarde en krag van die kunste, en gebruik dit vir kwaad i.p.v. goed. Dit is my hartsbegeerte om die kunste te herstel na God se oorspronklike plan daarvoor.

Hoewel, ek myself beskryf as ‘n  kunstenaar, weet ek, ek is geroep vir die bediening. Die afgelope paar jaar het die Here vir my ‘n duideliker prentjie begin wys hoe so ‘n posisie lyk, met die aanvang van ons profetiese bediening Art Refined – waar ek nou preek deurmiddel van kuns (‘n universele taal wat praat oor alle grense – taal, geslagte, ouderdomme, rasse, ens.). My doel is om deur middel van my kuns en die talente wat God vir my gegee het die goeie nuus van Jesus Christus te versprei, sodat soveel mense moontlik Hom persoonlik sal leer ken.”

Neil het op Desember 15 verlede jaar ook hulle eerste kreatiewe joernaal self vrygestel met die  idee dat dit mense daagliks op hul geloofsreis sal help… 

“Hierdie is ‘n idee wat die Heilige Gees al in 2019 aan my geopenbaar het, en na baie jare van bid, beplanning en harde werk het dit uiteindelik ‘n realiteit geword. Ons is baie opgewonde oor ons eerste Kunsjoernaal I found You wat 53 oorspronklike KUNS-MET-‘N-BOODSKAP-afdrukke bevat. Deur die jaar kan jy mediteer oor Skrifverwante en Goddelik-geïnspireerde kuns. Hierdie joernaal is ontwerp om oor 52 weke te vloei. Daar is geen vaste datums nie, gevolglik kan jy enige tyd gedurende die jaar begin.

Elke week se studie het vier bladsye wat toegeken is:

Een bladsy met die skrywer se boodskap, openbaring en gekose Bybelskrif;
‘n Tweede bladsy, met ‘n oorspronklike KUNS-MET-‘N-BOODSKAP, Skrif-geïnspireerde kunswerk, wat die boodskap vergesel;
‘n Derde bladsy, vir die leser om hul eie openbaring en gedagtes neer te skryf;
‘n Vierde bladsy vir die leser se eie kreatiewe openbaring.

Wonderbaarlik, met die hulp van ‘n borg, het Neil-hulle self die joernale gepubliseer en verkoop hulle dit dan ook self uit die hand uit.  

“Ons het uitgewers genader, maar omdat hierdie ‘n baie gespesialiseerde produk is, met ringbinding vir maklike gebruik en goeie kwaliteit papier waarop die leser self kan skets en verf, is die produksie koste hoog. As ‘n antwoord op gebed het die voorsiening om te publiseer egter ingekom!”

Neil en Riana het groot drome vir die joernaal. Dit is hulle gebed dat deur die gebruik daarvan, week na week, die leser self deur sy of haar kreatiwe reis nader aan God sal beweeg. 

“Dit is ons hoop om deur die verkoop van hierdie joernale tesame met kunswerke en ander unieke Art Refined produkte hierdie bediening te befonds, sodat ons meer mense kan bereik met die boodskap van verlossing deur hierdie unieke kreatiewe taal, en sodoende God te verheerlik.

Natuurlik sal ons niks kan doen sonder die krag en wysheid van God nie. Hy omring ons deur wondelike mense wat saam glo en droom oor Art Refined. Enige iemand wat betrokke wil raak om in te saai in hierdie bediening kontak Neil by neil@artrefined.co.za of besoek ons webblad – www.artrefined.co.za

Mense se terugvoer oor die joernale getuig van die Inspirasie agter elke skets en woord en dat dit inderdaad doen waarvoor dit ontwerp is:

Ek het myself bederf  met n asemrowende boek, Art Refined se Art with a message, joernaalboek  deur Neil Breebaart. Hierdie boek met verstommende kunswerke gelei deur Woord is wonderlik en lei jou om jou eie gedagtes vas te pen en spasie om jou eie gedagtes te skets, al is dit n stokmannetjie of n “doodle”. Ek dink mens kan selfs plak of kalligrafie doen. Elkeen van die boodskappe is waarmee ons elkeen daagliks mee te doen kry in die lewe  bv om God te hoor, wanneer ons onder druk is, wat jy kies, om aan te hou veg, ens. Jy sien jouself in elke stuk. Die een met die hart, Jesus of my heart, het my diep getref. Hierdie joernaal is handig vir my nuwe leerseisoen in my lewe.
– Corne Nel

Ooeee ek kon nie harder huil van oorweldige liefde dat Art Refined se Art with a message joernaal deur Neil Breebaart my gesin se geskenk van keuse vir my was nie!! En geen gras groei onder hierdie joernaal se bladsye of my voete nie, want gister oggend net na 5:00 is die bladsye oopgekraak en het die eerste skets begin!!! Neil is reg, kuns het ‘n bonatuurlike konneksie met die enigste lewende God. Mag jy – soos ek – met jou eie Art refined joernaal met die Here ‘n vertrouensverhouding bou. 
– Nicolette Steel

I am in awe! Die verpakking is amazing! Dit laat ‘n mens so spesiaal voel…ek is so diep diep gelukkig met hierdie boek. May GOD lift you up to the Highest of highest.
– Susan van Wyk

Ek het Neil Breebaart se boek aangekoop omdat sy aanslag met Bybelstudie my hart geraak het. Ek joernaal al byna 23 jr. Dit het begin na ‘n moeilike tyd in my lewe. My joernale is vol sketse. Hierdie joernaal is die eerste van sy soort. Ek hóór hoe die Here my vertel wat ek moet skets by die Skrif wat ek gekry het. Die kuns is tussen my+God. Dis wat lekker is!!
Lettie Olivier

Belangstellendes kan die joernaal aankoop op: www.artrefined.co.za of alternatiewelik direk by Neil: neil@artrefined.co.za / 0722454191. 

2025 lyk ook reeds vir Neil, Riana en die kinders baie belowend en volgepak: 

“Persoonlike kunswerke – bestellings; organisering van kunsuitstallings; die aanbied van werkswinkels; profetiese skilderwerk by kerkdienste en ander geleenthede asook die uitbreiding van die reeks Art Refined-produkte wat beskikbaar is.”

Maak gerus ‘n punt daarvan om hierdie jaar ook vir Neil Breebaart en Sy Meester Kunstenaar te ontmoet. Of dit nou in persoon is, deur sy joernaal is of om sy facebook-blad (https://www.facebook.com/BreebaartNeil) te volg vir gereelde inspirasie en verkwikking. Ek weet sommer jy sal saam met my stem, daar is iets of iemand anders aan Neil!

Tot volgende maand!
Marzanne

Subscribe to Newsletter

Please help us to keep on publishing news that brings Hope in Jesus:

>> Donate  >> Become a Super Subscriber

VISIT OUR YOUTUBE CHANNEL: https://www.youtube.com/gatewaynews100

COMMENTING GUIDELINES
You are welcome to engage with our articles by making comments [in the Comments area below] that add value to a topic or to engage in thoughtful, constructive discussion with fellow readers. Comments that contain vulgar language will be removed. Hostile, demeaning, disrespectful, propagandistic and off-topic comments may also be moved. This is a Christian website and if you wish to vent against Christian beliefs you have probably come to the wrong place and your comments may be removed. Ongoing debates and repetitiveness will not be tolerated. You will also disqualify yourself from commenting if you engage in trolling.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*


Click banner for more info