Oosthuizen — ‘Aborsie stop by ons’

Dr Faan Oosthuizen met voorbeelde van babas na 12 weke in die moederskoot.

[notice]Bloemfonteinse dokter Faan Oosthuizen is toegewyd om teen aborsie te staan ten alle koste. Alhoewel hy nie altyd pro-lewe was nie het hy vanaf 1997 gevoel die Here roep hom om die waarheid oor aborsie te vertel – dat dit moord van hulpelose babas is. Hy glo dat Suid-Afrikaanse Christene aborsies kan stopsit indien hul bereid sal wees om saam daarteen te staan. Stefan Lotter het met hom gesels.[/notice]Na sy bekering in 1983 het Dr Faan Oosthuizen en sy vrou, Riette, besluit om alles te onderhou wat God se Woord sê. Hy het egter nooit gedink dat sy beroep as mediese dokter so sterk sou druk op hierdie geestelike besluit nie.

“Ek het gevind dit is moeilik en om een of ander rede kon ek nie dit alles doen nie,” vertel Oosthuizen.

“As ons weet dat daar vanoggend 20-30 mense by ‘n hospitaal geskiet gaan word, sal ons mos nie stilbly nie… maar ons weet dat daar elke dag 20-30 babas by ‘n hospitaal aborteer word, hoekom bly ons dan stil?”

Op daardie stadium het hy by die Lethaba Hospitaal buite Tsaneen gewerk. Langs die hospitaal was ‘n tehuis vir gestremdes gewees waar talle van die dames seksueel misbruik is en swanger geword het. Die logiese redenasie was om aborsies te doen in al hierdie gevalle omrede die ouers onbevoegd sou wees.

- Advertisement -

“Ek het self ‘n paar aborsies gedoen. Een van die Katolieke wat saam met ons was het altyd gesê ons neem eintlik lewe.

“Maar dit was eers na 14 jaar se stryd hiermee dat ek een Sondag oggend in November 1997 tot die Here geroep het en gevra het hoekom ek nie die lewe kan leef waarvan die Bybel praat nie?”

1 Petrus 2:24 het by Oosthuizen opgekom.
“…wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.”

- Advertisement -

Visioen
Oosthuizen het gewonder hoekom Sy wonde nie hom gesond maak nie en in ‘n visioen het hy gesien hoedat hy eintlik Christus kruisig elke keer wat hy ‘n kind aborteer.

“‘Wat jy aan die geringste doen, dit het jy ook aan my gedoen’ het die heeltyd by my opgekom,” vertel Oosthuizen.

“En toe lees ek ook Sagaria 2:10 ‘… en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind.’

“Ek het besef dat eintlik weet die dokters nie wat hulle doen nie. So ek het my deure toegemaak en in Natal van kerk-na-kerk en kliniek-na-kliniek gegaan om mense oor die waarheid van aborsies in te lig.”

In 2003 het Oosthuizen weer begin werk, hierdie keer by Bloemfontein Nasionaal Hospitaal. Gedurende sy tweede jaar by Nasionaal het Oosthuizen op ‘n baba afgekom wat pas geaborteer is, weereens die gedagte gekry van ‘wat jy aan die geringste doen…’ en opnuut besef dat dit moord is.

“Ek het by die pasiënt gekom en gedog sy het ‘n miskraam gehad, maar toe ek meer uitvra het dit duidelik geword dit was ‘n aborsie. Die kind het sommer langs haar gelê, toegegooi onder lappe. Toe ek die lap optel was daar die mooiste seuntjie, 20 weke oud, wat morsdood daar gelê het.”

“Ek het begin protes doen daarteen – briewe geskryf, e-posse gestuur en versoeke gerig aan my kollegas. Maar kort daarna is ek verhoor en in 2009 afgedank.”

Na ‘n her-verhoor is dit dus bevind dat Oosthuizen se afdanking ongegrond was en is sy heraanstelling goedgekeer. Maar dit was nie lank voor Oosthuizen self besluit het om klaar te maak nie. Hy het die volgende maand gevas terwyl hy buite die kliniek ‘n uitstalling gehad het oor die waarheid van aborsie en daarvandaan aktief in Bloemfontein begin werk teen aborsie.

Deesdae is Oosthuizen werksaam as ‘n algemene praktisyn by Heyneke & Oosthuizen in die Bloemfontein middestad. Sy roeping bly steeds om die waarheid van aborsies – dat dit jong lewens is wat geneem word – bekend te maak.

Die rol van die kerk
“Wat moet ons as kerk doen? Wat moet ons as Christene doen? Een prediker het gesê ‘aborsies gebeur omdat Christene dit toelaat om te gebeur.’

“As ons weet dat daar vanoggend 20-30 mense by ‘n hospitaal geskiet gaan word, sal ons mos nie stilbly nie… maar ons weet dat daar elke dag 20-30 babas by ‘n hospitaal aborteer word, hoekom bly ons dan stil?”

In die tweede week van Oktober 2012 het Oosthuizen en sy vriend Craig Thiem begin om elke oggend voor werk met plakate en baniere in vrede te protesteer buite Mary Stopes kliniek by Bloemfontein Nasionaal Hospitaal.

“As elke Christen in die stad ‘n uur elke maand opsy sit om by ons te kom staan, dan sal dit verander! Al wat hulle hoef te doen is om by ons te staan met die plakate en baniere.

“As net een kerk dit ‘n gemeente projek maak, as daar elke dag net 10-15-20 mense daar staan, sal dit stop.”

Oosthuizen is op 57-jarige ouderdom onwankelbaar in sy uitkyk en die geregtigheid waarin hy wandel. Na 32 jaar se huwelik, vier kinders en twee kleinseuns is hy ook pro-lewe.

Click to join movement

Hy is vir ‘n volle lewe in Christus en hy is ook daarvoor om die lewens te red van diegene vir wie die Here groot planne het, al is hulle nog nie eens gebore nie.

Om meer uit te vind oor pro-life of kontak te maak met Dr Faan Oosthuizen skakel hom gerus by 083 265 9395 of e-pos hom by sdoosthuizen@xsinet.co.za

2 Comments

  1. Eljo Engelbrecht

    Dr Oosthuizen, baie dankie vir die groot werk wat u doen om mense bewus te maak van wat aborsie werklik is. Mag die Here vroue en dokters se oë oopmaak sodat hulle die waarheid sal insien en glo.

  2. Marietha Van Rensburg

    EK is ook teen aborsie en sal graag wil help waar dit moontlik is – net jammer dat so ‘n volmaakte baba wat Jesus geskape is deur mense stukkend gemaak word