Vyftien maniere waarop gemeentes skole kan ondersteun

Read in English

Deur Danie Mouton

Onderwys is in ‘n krisis in Suid-Afrika.  Dit het met interne probleme te doen, maar ook met die verbrokkeling van die vesel van die gemeenskap.

Tydens ‘n ekumeniese gebedsgeleentheid  vir die onderwys in Port Elizabeth, het me NGI Bashman, hoof van die distrikskantoor van Onderwys in Uitenhage, die volgende wyses gedeel waarop gemeentes skole kan ondersteun:

- Advertisement -

1.  Neem ‘n skool aan
Gemeentes word aangemoedig om inisiatief te neem om ‘n nabygeleë skool aan te neem deur belangstelling te toon en vriendskapsbande te smee.  Die Onderwysdepartment en skoolhoof is vennote in die proses.  Gemeentes vermy beterweterigheid, en is eerstens ingestel op die smee van verhoudinge en die betoon van opregte belangstelling.

2.  Ondersteun huishoudings waar kinders in beheer is
Daar is talle huishoudings in talle gemeenskappe waar volwassenes afwesig is.  Die huishouding word deur kinders bestuur.  In sommige gevalle is die ouers oorlede, in ander gevalle weens ekonomiese of ander omstandighede afwesig.  Gemeentes kan help om hierdie verskynsel in gemeenskappe te oudit.  Hoeveel van hierdie huishoudings is daar, en hoe kan die gemeenskap mede-verantwoordelikheid neem om die lot van hierdie kinders te verlig?

3.  Verhoed kinderswangerskappe
Gemeenskappe moet doelgerig saamstaan teen kinderswangerskappe.  Gemeentes kan veral fokus op die bemagtiging van ouers om kinders te begelei rondom hul seksualiteit.

- Advertisement -

4.  Donasies
Gemeentes moedig ouers aan om nuttige items wat nie langer gebruik word nie, skool toe te neem.  Voorbeelde: ou skooluniforms, boeke, skoene, skryfbehoeftes.

5.  Neem kinders op in die skoolsisteem
Dit gebeur dat Graad 12-leerders druip en dan besluit om nie terug te gaan skool toe nie.  Daar is dikwels kinders van skoolgaande ouderdom in gemeenskappe wat nie in die skool is nie.  Hierdie kinders word nie toegerus vir ‘n produktiewe toekoms nie.  Gemeentes kan in vennootskap met die Onderwysdepartement sodanige leerders identifiseer en motiveer om skool toe te gaan.

6.  Verskaf informasie

Gemeentes kan ‘n opvoedingsmaand instel waartydens die Onderwysdepartement genooi word om informasie te kom deel.  Veranderings in die kurrikulum kan toegelig word, besonderhede oor bv. winterskool- of lenteskoolprogramme gedeel word, sportprogramme bekendgestel word, en selfs eksamentye gedeel word.  Die belangstelling van die gemeenskap in hierdie programme, en die motivering van leerders, kan ‘n beduidende verskil aan die funksionering van skole maak.

7.  Kommunikasie tussen die Departement en gemeentes

Die Onderwysdepartement het ‘n behoefte om gemeentes in te sluit in amptelike kommunikasie oor onderwysaangeleenthede.  Distrikskantore gee bv. jaarliks ‘n analise van eksamenuitslae van Graad 1 tot 12.  Predikante en gemeenteleiers kan dit in amptelike hoedanigheid bywoon, begrip en ‘n aanvoeling ontwikkel, en toegerus word om leiding aan gemeentes te gee oor betrokkenheid by die verbetering van onderwysresultate.

8.  Gee geleentheid vir huiswerk
Gemeentes word aangemoedig om hul fasiliteite op weeksmiddae beskikbaar te stel vir die leerders van die gemeenskap om huiswerk te kom doen.  Lidmate kan versoek word om per rooster toesig te hou.  Daar is baie huishoudings wat om verskeie redes nie aan leerders geleentheid vir studie kan bied nie.

9.  Berading
Gemeentes kan nooit genoeg doen in terme van familieberading en die versterking van gesinne nie.  Die meeste leerders kom uit gebroke of disfunksionele huise, selfs waar die ouers nie geskei is nie.  Hierdie sosiale onstabiliteit is ‘n ernstige struikelblok vir opvoedkundiges.

10.  Ondersteun die opvoeders
Gemeentes kan opvoeders op die volgende praktiese maniere ondersteun:
•Stresbestuur
•Begrotingsbestuur
•Wellness-programme tesame met die hantering van portuurdruk
•Gebedsondersteuning
•Gesinsberading
•Betrek opvoeders in singewende kerklike aktiwiteite
•Motivering en die herstel van die waardigheid van die onderwysprofessie
11.  Gedragsmodifikasie
Ernstige probleme in leerdergedrag kom voor rondom sake soos dissipline, verslawing, sosiale aanpassing, en moraliteit.  Kerk en skool moet saam bemagtigende planne maak om hierdie sake aan te spreek.

12.  Tydige aansoeke

Gemeentes moet alles moontlik doen om ouers in September / Oktober van die vorige jaar aan te moedig om betyds aansoek om die toelating van hul kinders tot skole te doen.  Die begin van die akademiese skooljaar word dikwels vertraag omdat ouers laat aansoek om toelating doen.

13.  Gebed tydens sleutelmomente
Gebedsondersteuning vir skole rondom sleutelmomente op die akademiese kalender word benodig, bv in eksamentyd, die aanvang van skoolkwartale, e.s.m.

Click to join movement

14.  Gestremde leerders
In sommige gemeenskappe steek ouers hul gestremde kinders tuis weg.  Kerke kan ‘n kultuur skep waarin dit veilig is vir ouers om hierdie kinders vir opvoeding en onderwys aan te meld.

15.  Databasis van vaardighede

Skole benodig van tyd tot tyd die dienste van persone met bepaalde vaardighede, bv vir herstelwerk, sekuriteit, toesighouding, e.s.m.  Gemeentes wat ‘n databank het van bv. werklose lede en hulle vaardighede kan skole help om toegang tot hierdie soort ondersteuning te kry.

Kerkrade kan hierdie lysie gerus deurwerk om te bepaal welke van hierdie strategieë deur die gemeente toegepas kan word.

Comments are closed.