Baaise bendes bid, want hulle is ‘lus vir vrede’

Riaan Marais (Die Burger Oos-Kaap – 2 Mei 2012):

Port Elizabeth — Bendelede van die Baai se noordelike gebiede het gister hande gevat in gebed met die hoop om vrede na hul gemeenskap te bring.

“Niemand is gedwing om vandag hier te wees nie. Dié groepe het bymekaar gekom, want hulle besef dinge rondom hulle is aan die handuit ruk,” het Justin Oliphant, ’n pastoor van die omgewing, gesê.

- Advertisement -

Sowat 40 bendelede, onder wie sommige wat hoë range in bendes beklee, het gister saam gebid.

- Advertisement -

Oliphant is deel van ’n groep wat gereeld in die noordelike gebiede vir gesinne en slagoffers van bendegeweld bid. Daarom het die groepe wat besluit het om vrede te maak hom genader om met die proses te help.

“Ons het gehelp bou aan die ding, maar met die hulp van God het dié jong manne self tot die besluit gekom,” het hy gesê.

Lede van die gemeenskap het in Springbokstraat bymekaargekom, of van hul voorstoepe gekyk hoe eertydse vyande hande skud.

- Advertisement -

Eugene Afrika, ’n oudbendelid wat tyd in die gevangenis deurgebring het, is bekeer en werk nou saam met Oliphant. Hy was byna in trane van blydskap oor die bendes se besluit.

“Ek weet waardeur die outjies gaan en die beste besluit wat ek ooit geneem het, was om tot bekering te kom. Net die Here kan bendegeweld tot ’n einde bring.”

Nog een van Oliphant se vriende, Ashley Munich, ook ’n oudbendelid en gevangene, het van sy eie ervaring met die gemeenskap gedeel.

“Ek was met die verkeerde goed deurmekaar en ek het die letsels om dit te bewys. Ek is geskiet, gesteek, geslaan en selfs deur ’n taxi omgery. Julle het nou die geleentheid om weg te draai, voor julle dieselfde paadjie loop,” het Munich gesê.

’n Jong man, wat glo ’n hoë rang in een van die bendes beklee, was bly om so baie van sy vriende en vyande daar te sien.

“Dis tyd vir dinge om te verander. Te veel van my vriende het al gely en ek is bly om te sien daar is so baie manne wat lus is vir vrede,” het hy gesê.

Gemeenskapslede van Gelvandale is wel skepties oor dié nuwe vrede, maar glo ook gister was ’n goeie begin.

“Die outjies sal steeds dwelms verkoop en skelm dinge doen, maar as hulle bereid is om gesig te wys en op te staan vir vrede, kan dinge seker net beter raak,” het ’n inwoner van Gelvandale, wat anoniem wou bly, gesê.

Comments are closed.