[notice]Dr Chris Russouw, afgetrede veearts en tandards is lidmaat van ‘n NG gemeente in die Suid-Kaap. Verlede jaar in Oktober, het hy ‘n motorfietsongeluk gehad. Hy was in die intensiewe sorgeenheid opgeneem met 7 rib frakture en ‘n kleinbreinbloeding en het geweldig pyn ervaar. Hieronder volg sy getuienis oor die gebeure in die hospitaal en ook later waar hy tuis aangesterk het. Gateway News het sy getuienis met sy dominee bevestig.[/notice]
“Ek is na 3 weke huistoe, maar was skaars tuis, of ek is weer opgeneem in die hospitaal in ‘n koma. Familie, vriende en verskeie kerke se gebede het my gedurende hierdie moeilike tyd gedra.
“Die geneesheer was bekommerd aangesien my toestand net bly vererger het. My seun Hannes, student in Kaapstad is ook laat kom omdat die geneeshere die ergste verwag het. Ekself is in koma en vrees niks nie – God is my vriend en ek is Syne.
“Ek het vroeër reeds versoek dat ek aan geen lewensverlengingsmasjiene gekopppel moet word nie en my prokureur was bewus van die betrokke versoek.
“Ek is weer terug in die hoësorgeenheid met longontsteking, orgaanversaking en baie lae bloeddruk. Verder het ek ‘n hoë koors en feitlik geen urienuitskeiding – slegs 10 ml/dag. Ek word tóg aan ‘n ventilator en dialise masjien gekoppel en nierversaking en bakteriële septisemie volg. Die geneeshere het geen hoop nie, maar tog… waar daar lewe is, is daar hoop!
“Die geneeshere dra die slegte nuus aan my familie oor dat hulle niks verder vir my kan doen nie en daar word besluit om die masjiene af te skakel. Ek word na ‘n privaatkamer oorgeplaas en die familie verwag die ergste. Ek was onbewus van enige pyn en intussen het ontbinding by my ingetree, veral my grootspiere op my blaaie en boude. Ek was breindood verklaar…
“‘n Jong dame (36jr) wat saam met haar kinders (3jr en 11jr) in ‘n motorongeluk was, was saam met my in die hoësorgeenheid en die masjiene waaraan sy gekoppel was, is dieselfde nag as myne afgeskakel. My eggenote en die dame se lewensmaat het saam gebid dat haar lewe gespaar moet word, maar die mens wik, en God beskik.
“In dié tyd het God my na die hemel geneem. Die hemel het die blouste groen gras en bome met die mooiste bas en dik stamme. Alles het geskitter en geblink soos kristal. Vier engele het aan my verskyn…Die engele het só geskitter dat ek slegs hulle profiele kon uitmaak. Twee van hulle het ‘n swart baba geklee in wit, aan my gewys.
“Langs my, in ‘n bed, was ‘n serebraal gestremde kind, geklee in ‘n rooi pakkie. Die engele het hierdie twee lewende wesens versorg en twee engele het die gestremde seuntjie se doek omgeruil. Daar was ‘n funksie in ‘n naby geleë lokaal en die twee engele het die gestremde seuntjie daarheen geneem. Die ander twee engele het net daarna die swart baba ook daarheen geneem. Ek is oortuig daarvan dat die engele na die babas omsien totdat hulle eendag met hulle bekeerde ouers herenig sal word.
“Die vrede daar was onbeskryflik en ek wou nie terugkeer aarde toe nie. Die volgende oomblik het ek deure wat oopgestamp word en trolliewiele hoor rammel. Ek het spontaan wakker geword – dit was omstreeks 0:30 die nag van 14 Desember 2010. Ek was bewus dat iemand gesterf het – God het die jong dame kom haal en my teruggebring aarde toe, sodat ek aan die mense op
aarde kan vertel dat God ‘n werklikheid is en dat Sy genade veel groter is as wat ons kan besef.
“Nadat ek die nagsuster ontbied het deur my klokkie te lui, het ek haar versoek om my te help sodat ek in ‘n stoel kon sit. Ek het
ontsettende pyn verduur. Toe die geneesheer en my eggenote my die oggend daar aantref, het dr Retief net gesê: “dit is nie ongelooflik nie, maar gelooflik; dit is nie ‘n mediese wonder nie, maar ‘n Goddelike wonderwerk!”
“‘n Lang pad van herstel het vir my voorgelê, maar ek is vandag baie dankbaar om te kan getuig dat ek volkome herstel het na 3 maande se verblyf in die hospitaal. Daar is later vasgestel dat ‘n gram negatiewe Basil, te wete Citrobacter freundii by my gediagnoseer is en dít het die septisemie veroorsaak.
“Die dame wat gesterf het se eggenoot het homself volkome in die Here Jesus bekeer ná die ondervinding wat hy in die hospitaal met ons Russouw familie ervaar het.
“Ek dank die Here vir Sy groot genade, U wat aan die kruis vir ons gesterf het. Heb 10:35 – 36. My geloofsvertroue moet ek nie
prysgee nie – dit hou groot belonings in. As mens net glo wat jy glo, volharding is wat ek nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het”.
Thank you, Mr Editor, for verifying and publishing this
amazing story.