Hoe God my visie verander het

Japie2
Japie Mostert met sy vrou, Nicola, en tweeling dogters.

[notice]Elkeen van ons se probleme lê soos ‘n BERG voor ons, maar sodra ons daardeur is, besef ons dat God dit vir ons makliker gemaak het om daardeur te kom…

Japie Mostert, ‘n man van min woorde, wat van nature sy diepste gedagtes vir homself hou, deel sy getuienis oor hoe God hom aangeraak het tydens die afgelope KMMC. Met ‘n nuwe perspektief is hy vry om te praat oor die moeilike pad wat hy en sy familie moes loop. Hy keer terug Botswana toe met ‘n nuwe visie en geloof in God.[/notice]

Ek het lank gewik en weeg voor ek finaal besluit het om Karoo Mighty Men toe te gaan, en daar is baie struikelblokke op my pad gesit, ek het amper n uur voor ons vertrek het gekanselleer. Met God se genade het dinge uitgewerk en ek is saam. Ek het nie geweet wat om daarvan te verwag nie, maar wat ek wel geweet het, ek het uitkoms gesoek om baie van my emosies te verstaan en te kon verwerk! Ek is nie die tipe persoon wat sommer gesels oor my emosies en gevoelens nie, en krop baie op.

Die laaste paar jaar het dinge te vinnig, te veel, oor ons pad gekom en alhoewel ek probeer om ‘n goeie christelike lewe te lei, kom mens op daai stadium waar dinge net te veel raak.

Swanger
Na ons vir ongeveer 6 jaar gesukkel het dat my vrou moet swanger raak, is my vrou gediagnoseer met verskeie goed, soos endometriose en PCOS. Na die regte behandeling het ons twee keer gegaan vir inplantings, en in 2013 geseën met n pragtige baba dogtertjie, Janica. Sy is vroeg gebore en dit was ‘n moeilike bevalling. Drie dae na haar geboorte het die pediater met my vrou gepraat en ons meegedeel dat ons dogtertjie met Down Sindroom gebore is. Ons was aanvanklik verpletter, en dit was, en is nog steeds met tye, vir ons moeilik om te aanvaar. Met tyd, baie gebede en berading het ons besef dat dit nie die einde van die wêreld is nie, maar dit het soos ‘n paal bo water uitgestaan dat daar glad nie ‘n maklike tyd vir ons voorlê nie.

Japie3
Janica.

Janica moes gereeld vir arbeidsterapie gaan maar finansieel kon ons dit nie bekostig nie. Ons het gelukkig ‘n great terapeut gekry wat ons via epos bygestaan het. Janica was ongeveer ‘n jaar oud toe hulle by ons woonstel ingebreek het. Sy het reg deur die alarm geslaap en glad nie wakker geword nie. Ons het dit met die pediater bespreek, en hy het voorgestel dat ons haar gehoor moet laat toets. Die mediese fonds wou nie die aanvanklike breinstam toetse betaal nie, en die gehoorsentrum het ‘n onvolledige toets gedoen en bevind dat daar wel met Janica se gehoor ‘n probleem is. Na regte motivering en baie kommunikasie heen en weer na die mediese fonds toe, het hulle uiteindelik ingestem om Janica se gehoor in ’n teater te laat toets, wat onder narkose gedoen is, aangesien daar n mate van gevaar aan die breinstamtoetse is.

Die bevinding was dat Janica net tot op ‘n sekere desibel hoor en dit haar spraakontwikkeling bemoeilik. Sy kan nie die klanke hoor wat haar in staat stel om te leer praat nie. Die gehoorsentrum het aanbeveel dat sy gehoorapparate moes kry vir beide haar oortjies, wat ons ook doodeenvoudig nie kon bekostig nie.

Van die ouderlinge in ons gemeente in Botswana het uitgevind hiervan, en hulle het Janica onder hulle vlerk geneem. Hulle het die R12,000 betaal sodat sy haar apparaatjies kon kry!

Aan die begin van 2014 het ons besluit om weer te probeer vir nog ‘n babatjie aangesien die dokter ons aanbeveel het om nie te lank te wag nie. Hy het verwag dat die probleme wat my vrou gehad het kon terugkeer wat dan ook die volgende swangerskap kan bemoeilik en vertraag.

Na verskeie maande se probeer het ons n afspraak by die vrugbaarheid kliniek in Johannesburg gemaak vir inplantings. Ons het die konsultasie en verblyf in Johannesburg betaal, en reggemaak vir die volgende rondte van inplantings.

‘n Week nadat ons die afspraak gemaak het, het ons uitgevind my vrou het spontaan swanger geraak! Hoé swanger het ons nog nie op daardie stadium geweet nie!

Onderweg na die 6 weke ondersoek kry ons ‘ n oproep van die spreekkamer om ons mee te deel dat die dokter in n ongeluk was, en hy ons nie meer kan bystaan met die ondersoek nie. Inderhaas moes ons ander planne maak, en kon gelukkig by sy vennoot geholpe raak.

‘n Verassing
Tydens die ondersoek het die dokter ons die goeie nuus meegedeel dat daar nie een nie, ook nie twee nie, maar drie klein wonderwerkies op pad is!!

Dit was ‘n moeilike swangerskap, en op 14 weke tydens n roetine ondersoek is gevind dat my vrou Nicola alreeds ongeveer 2 cm ontsluit was. Sy moes teater toe gaan vir ‘n voorkomende steek in die serviks, om te keer dat iets met die swangerskap gebeur. Twee weke later, op 16 weke het Nicola in kraam in gegaan, hopeloos te vroeg. Gelukkig kon hulle haar opneem in die hospitaal en die kontraksies keer.

Drie dae later moes sy Botswana verlaat en by familie in Suid-Afrika gaan bly, waar sy voldoende mediese hulp kon kry, en om naby ’n goeie hospitaal te wees. Sy was op bedrus van 16 weke af tot op 32 weke met die drieling se geboorte. Nodeloos om te sê, was dit ‘n bitter moeilike tydperk. Ek kon nie die tyd by haar wees nie, en my ouers kon ook nie die hele tyd na klein Janica kyk nie. Dit alles het bedrus vir Nicola baie bemoeilik.

Al die mediese onkostes in Suid-Afrika moes uit ons sak kom, geld wat ons nie gehad het nie, maar het hulp uit verskeie oorde ontvang.

Op 31 weke is Nicola in die hospitaal opgeneem vir ‘n week, waarna hulle goed gedink het om ‘n keiser te doen. Op 12 Januarie 2015 is die drieling gebore. Die seuntjie het 1.6 kg geweeg, en die meisies 1.1 kg elk. Ons het onsself reggemaak vir ‘n lang en moelike stryd vorentoe terwyl hulle in die Neonatale eenheid gelê het.

Vyftien daggies later, is die seuntjie, Sion oorlede. Ons was verpletter, en dit is nog steeds bitter moeilik. Ek mis hom verskriklik, en huil daagliks oor hom. Sy begrafnis was een van die moeilikste gebeure in my lewe.

Die meisies was 39 dae elk in die NICU, en is ontslaan toe hulle self kon drink, en bo 2kg geweeg het. Die meisies was na hulle ontslaan is, vir nog ongeveer ‘n maand in Suid-Afrika gewees, waarop ons vir hulle paspoorte gewag het.

Die dag waarop die meisies kon huis toe kom was een van die gelukkigste in my lewe! Ons was, behalwe vir boeta, weer n voltallige huisgesin!

Ons moes vir die eerste 6 maande na hulle ontslaan is elke maandeinde deurgaan SA toe, die meisies moes inspuitings kry om hulle longetjies sterk te maak.

Gedurende al die gebeure het ek nog ‘n moeilike tyd by die werk gehad, weens verskeie redes. Meeste van my vriende en kollegas is weg as gevolg van werkspermitte wat afgekeur is, en die druk by die werk het ook toegeneem deurdat daar sprake van n nuwe maatskappy was wat ons sou oorneem. Omstandighede by die werk party dae was hel, en nie maklik om mee saam te lewe nie.

Die verhouding tussen my en my vrou het ook begin versuur, en ons het baie begin baklei. Daar is verskeie redes hiervoor, onder andere die verskil hoe ons Sion se dood hanteer. Daar was baie verwyt van haar kant af oor ek nie emosie gewys het nie. Ek het ook skuld hierin, oor ek haar nie tyd gegee het om te rou nie, ek wou maak asof niks gebeur het nie, en aanbeweeg het.

Die verhouding tussen ons het daagliks erger geraak, en met God se genade het beide van ons besluit ons gaan daaraan werk, en ons huwelik red! Dit het baie harde werk, baie tande kners, baie trane gekos, maar die omstandighede het verbeter, en ons is weer gelukkig saam. Ons gemeente leier het baie gehelp gedurende die proses.

Trane
Die week voor ons vetrek het Mighty Men toe, het dinge tot ‘n uitbarsting gekom, en het ons ‘n afspraak met ons leraar gemaak. Die middag voor ons vertrek, het ons ‘n lekker trane sessie gehad met dominee Pierre, en die gemoedere was beslis beter. Ons het vir Nicola ‘n afspraak gemaak om ‘n sielkundige te gaan besoek, en is Nicola met die ergste graad van kliniese depressie gediagnoseer.

‘n Uur voor ons vertrek is ek gekontak deur ‘n maatskappy by wie ek in Januarie al aansoek gedoen het vir werk, en moes ek in ‘n baie kort tydjie besluit of ek die werk gaan aanvaar of nie, aangesien dit die laaste dag was waarop ek my bedanking kon indien. Ek wou nog steeds kanselleer om te gaan, maar Nicola het aangedring daarop, sy het gevoel dat ons elkeen tyd nodig gehad het.

Deur alles het ek besluit om belydenis van geloof af te lê, en het ‘n pad begin stap saam met ons leraar. Ek is opgeneem in die kerk, een van die mooiste dae in my lewe.

Ek wou nie te veel verwagting in my hart gehad het vir die Mighty Men geleentheid nie, en ek het besluit om die kat eers mooi uit die boom te kyk. Die aand met die eerste sessie was ek aangenaam verras, en ek het die Worship sessie gate uit geniet. Ek het gedurende die dag ‘n punt gemaak om alleen tyd te kry, en ek het gebid en God gevra om my verstand en my hart skoon en ontvanklik te maak vir die naweek, en ek het gebid om aangeraak te word en in staat gestel te word om myself uit te sorteer.

Dit het vir my gevoel of die spreker die Vrydag aand, Arno, se boodskap spesifiek vir my was, en ek kon net my kop in skaamte laat sak. Ek het besef dat ek ongelooflik selfgesentreerd was, en hoe ek my familie te na gekom het. Ek het nie hulle gevoelens of enige iets anders in ag geneem nie, en ek het besef dat ek die meeste van die tyd die oorsaak was van my eie hartseer, en veral die hartseer van my gesin.

Bishop Lwere se getuienis het my net so aangeraak, asook die van Jaffar Amin. Ek het besef dat dit nie te laat is vir my om dinge met my gesin reg te maak nie! Elkeen van ons se probleme lê soos ‘n BERG voor ons, maar sodra ons daardeur is, besef ons dat God dit vir ons makliker gemaak het om daardeur te kom, en ons sal dit nooit maak sonder om geloof in Hom te hê nie!

Oom Angus se gesprek met ons het my laat besef dat ons God se uitverkorenes is, en ons is op die aarde geplaas om ons families aan God op te dra! Ons moet ons verhouding met eerstens God reg kry, dan met ons gades, en daarna ons gesin. As die dinge in plek is, het ons klaar die oorlog gewen!

Deurbraak
Ek het tydens die breuke tussen die sessies baie met Nikkie gepraat, en ook in die ry terug huis toe van Middelburg af. Vir die eerste keer was ek nie skaam om met enige iemand oor God en my gevoelens te praat nie! Dit was ‘n absolute verligting, en het beslis gevoel of daar ‘n berg van my skouers en gemoed veral af geval het!

Ek het baie gekry uit die ondervinding by KMMC, en dit is fantasties om ‘n God te hê om in te kan vertrou! Ek glo beslis dat God my hart aangeraak het tydens die KMMC, en dat alles vir ons reg sal uitwerk.

God is GROOT!

Dankie vir die geleentheid om my hart oop te maak.

3 Comments

  1. Hendrik Putter

    Hallo Japie,ek was ook by KMMC. Wat n belewenis was dit nie!(elke jaar!). Sit met trane in my oë nadat ek jou getuienis gelees het. Die Here op my hart gesit om vir jou Skrif te gee. Jer.29:11-14.

  2. by die Here is niks ontmoonlik nie. prys hom

  3. Hi JApie Ek wil net vir jou se my lewe is ook besig om te verander… Ek het alreeds my nuwe vroutjie se skuld wat haar ex man haar mee gelos betaal en ek gaan volgende week vir my seun kuier wat ek jaar en half laas gedien het….oom angus het mos gese ons moet nie altyd wag dat ons kinders na ons toe moet kom nie … Ons as ouers moet na hulle toe gaan …