Leer hulle dan nooit nie?

President Jacob Zuma
President Jacob Zuma

Deur Pieter Fourie — Oorspronklik gepubliseer in Kerkbode

Die ANC se onheilige vergelyking van sy drieparty-alliansie met die heilige Drie-eenheid het met reg baie Christene warm onder die kraag. Soos ook talle van dié party se ander kwasi-godsdienstige uitsprake die jongste tyd. President Zuma het sy party reeds herhaaldelik as die party naaste aan die Allerhoogste geskilder, wat sal regeer totdat Christus weer kom.

’n Mens wil vra: “Leer politici dan regtig nooit nie?” Waar dan nou beter as júis Suid-Afrika om dié geskiedenisles tuis te bring: ’n Mens mag nooit, maar nooit, God vir jou eie doeleindes annekseer nie, veral nie vir politiek nie? Is Suid-Afrika dan nie by uitstek dié land waar die kerk die politici in die kwaad van hulle onheilige anneksasie gesterk het nie?

Kort ná die bewindsaanvaarding van die Nasionale Party in 1948, het hierdie einste kerkblad met trots geskryf: “As ’n kerk het ons altyd doelgerig gewerk vir die skeiding van rasse. In dié opsig kan apartheid dus tereg as ’n kerkbeleid beskryf word.” Dr JD Vorster, Kaaplandse moderator, het in 1970 nog gesê: “Ons enigste gids is die Bybel. Ons beleid (oor apartheid) is gebaseer op die Bybel … Ons is reg en sal voortgaan om die weg te volg wat die Bybel ons leer.”

- Advertisement -

Karl Barth se radikale teologies-politiese rigtingwyser vir die kerk van die Here, gebore vanuit sy stryd met Naziïsme in Duitsland, het steeds nie sy relevansie verloor nie: “Geen sin is gevaarliker en méér revolusionêr as dat God Één is, en dat daar geen ander soos Hy is nie. Al die ander instellings van die wêreld kry hulle bestaan van ideologieë en mitologieë, van openlike of verbloemde godsdienste, en vorm aldus allerlei gedaantes van goddelikheid.

Dit was op grond van die waarheid van dié sin dat Adolf Hitler se Derde Ryk gestrand het. Náás God en die geloof in Hom, is daar net bygeloof, dwaling en afgodsdiens.” Teen dié agtergrond is dit goed dat die Belydenis van Belhar nou ook ’n beduidende rol in die NG Kerk begin speel.

Want dié belydenis se uitgangspunt is mos juis: Jesus is die Heer, ons enigste Hoof!

- Advertisement -

Click to join movement

Alles wat ons bely en doen, doen ons in gehoorsaamheid aan Hom, “al sou ook die owerhede en verordeninge van mense daarteen wees en al sou straf en lyding daaraan verbonde wees”. – Pieter Fourie

Comments are closed.