NG Sinode veroordeel seksuele uitbuiting van vroue en kinders

Me Elize Morkel, ’n ervare sielkundige, het onlangs tydens die Wes-en-Suid-Kaapse sinodesitting ’n aanbieding oor diversiteit en geslagsgelykheid gehou. Die Sinode het in Mei 2011 by Goudini vergader.  Me Morkel het die gesprek ingelei met stawende statistiek en die nodige agtergrond oor die verwoestende effek van pornografie, en die gevolge van die seksuele degradering van vroue en kinders in die media.

Daarna het Gen. Sharon Jephta, sedert April 2011 die nuwe Adjunk-Provinsiale Kommissaris SAPD van die Wes-Kaap, die sinode op uitnodiging besoek. Sy het haar stem gevoeg teen die geweld teen vroue, kinders en ook alle ander geweld veroordeel.

Dié sinode het die volgende twee mosies eenparig aanvaar:

1. As sinode van die NG Kerk spreek ons ons ten sterkste uit teen alle vorme van pornografie en materiaal in die media wat vroue en kinders degradeer of seksueel uitbuit – ook die ongekontroleerde vertoning daarvan oor die openbare TV-senders soos tans deur E.TV. Daar heers ernstige kommer oor die geweldige hoë voorkoms van geweld en seksuele geweld teen vroue en kinders in die Suid-Afrikaanse samelewing. Pornografie en seksuele stereotipering van vroue lewer ‘n groot bydrae tot die probleem.

2. Na aanleiding van die gesprek oor Geslag en Diversiteit verklaar die Sinode: Jesus is die Heer en Hoof van die huis, kerk en samelewing. Onder Hom staan vrou, man en kind op gelyke vlak. Elkeen is profeet, priester en koning. Ons word geroep om uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig te wees en mekaar te dien in liefde. Ons verset ons teen elke vorm van magsmisbruik en geweld, in die huis, kerk of samelewing, hetsy ekonomies, fisies, emosioneel of seksueel. Ons verset ons ook teen enige ideologie wat dit regverdig en onderhou (Dat die bespreking en besluite rondom die saak van diversiteit en die verhouding tussen man en vrou in die gesin, nooit gegaan het oor rolle en verantwoordelikhede nie, maar oor die waarde van mense voor God).

Click to join movement

Comments are closed.