Boekresensie: Wat Is God se hart vir Sy Kerk? — Jan Oosthuizen

Resensie deur Dr Bernhard Ficker

Met die verskyning van sy boek “Wat is God se hart vir sy Kerk – Is Kerk hoegenaamd goed vir my?” maak Jan Oosthuizen ‘n belangrike bydrae tot die godsdienstige boekerak.

Die fokus van die boek is veral die plaaslike gemeente.  Deur die dekades het Oosthuizen ‘n al hoe groter liefde en respek hiervoor gekry.  Hy vertel hoe dit by die plaaslike gemeente was dat hy vir die eerste keer ‘n sondebesef ervaar het, toe daar ‘n oproep tot bekering en ommekeer in sy lewe was.  Die fokus van sy skrywe is om die groot belangrikheid van ‘n gesonde florerende plaaslike gemeente uit te lig en te beklemtoon.  

Hy wys daarop dat “Jy is wat jy is as gevolg van jou plaaslike gemeente en jou Kerkfamilie”.   Soos hulle in Engels se: “It takes a church to raise a village.”  Nog nooit het die wêreld die Kerk so nodig soos vandag nie.  Oosthuizen glo in ‘n openhartige, eerlike, liefdevolle, inklusiewe, onpartydige, anderkant kerkmure tipe infiltrerende sout-en-lig kerk.  Dan volg daar ‘n wonderlike dinamika wat begin geld as mense wat die Here dien in mekaar se lewens begin betrokke raak.  

- Advertisement -

Die ware kerk bied bestendigheid en sekerheid in ‘n onsekere wereld.  Kerk mense kry nuwe perspektiewe en waardes.  Soos die vroeë kerkbeweging geïnstitusionaliseer geword het, het dit al hoe meer mensgedrewe en mens-gesentreerd geword.  

Om die punt te illustreer wys hy daarop dat mense wat nie in ʼn gemeente geplant is nie, soos bonsai boompies, of plante in ‘n kwekery is wat gedurig rondgeskuif word maar nooit geplant word waar dit kan groot word en volwassenheid bereik nie. 

Oosthuizen bevestig dat jou geestelike familie word op die ou end jou ware familie, want die kerk is ‘n familie, en nie ‘n organisasie waaraan mens behoort nie. Daar word jy geleer om mense anders   te hanteer.  Deur onsself verantwoordbaar aan Sy familie-liggaam-gemeente te maak, word ons gedrag en gewoontes hervorm.   

- Advertisement -

Verhoudings le aan die kern van ‘n suksesvolle kerkwees.  Jy kan fisies 100% gesond wees maar sielsongelukkig as gevolg van stukkende verhoudings. Die Christen se grootste aanvalswapen is liefde.  Daar sal iets skort in jou lewe as jy nog nooit vrede gemaak het met God nie.  

Oosthuizen kom tevore met ‘n reeks innoverende sieninge en gedagtes, soos byvoorbeeld dat ons brein is ‘n geloofsoortuiging fabriek. Of dat die Bybel is ‘n versameling Jesus-oplossings en verlossingsdade is wat ons geskapenheid na God se beeld en bewussyn vier.   

Die noodsaaklikheid van kerklike tug word egter ook in die boek beklemtoon.  Te dikwels  behoort mense kragtens tradisie aan ʼn tuglose massa-kerk, sonder dat hulle verstaan waaroor kerk-wees eintlik gaan. 

Oosthuizen wys daarop dat die kernprobleem met die sosiale evangelie is dat daar nie ‘n appel tot bekering is nie en dat mense nie tot ‘n sondebesef kom nie.    

Gehoorsaamheidmoet die werkwoord van elkeen se geloof wees en almal moet in geloofsgehoorsaamheid leef. Ware betrokke lidmate geniet die lewe sonder om te sondig en leef die lewe voluit.  Die misterie van gemeenskap en deel wees in Sy liggaam is een van die mees vervullende ervarings wat ‘n mens kan beleef.  

Oosthuizen bepleit vir Koninkryk-gerigte lidmate en ‘n Koninkryk-bedryfsstelsel tipe kerk wat ‘n verhouding-maak-kontak oplossing bied tot al die ingewikkelde komplekse probleme.  Die uiteindelike doel van die plaaslike gemeente is om ‘n Jesus-koninkryk-gerigte kultuur te skep. ‘n Gesonde gemeente bied ‘n gesonde, heilige gesinsbelewenis vir elke mens en generasie. 

Jesus wil nie net hê ons moet Hom aanbid nie, maar Hom volg. Dis ons gehoorsame navolging van die Persoon Jesus wat genesing bring vir die totale mens.  Jesus soek meer as net ons aanbidding — Hy soek ons geloofsgehoorsaamheid. Die krag van Jesus se woorde lê daarin om dit te gehoorsaam. Die geestelike reis van die gelowige word gekenmerk deur selfverloëning en gehoorsaamheid. God vra bo alles gehoorsaamheid en by implikasie vereis dit iets van elkeen.  

Oosthuizen beklemtoon verder die konsep van die Kerk en Waarheid en Reformasie.  Die kerk moet bly reformeer om op die weg van Waarheid te bly. Reformasie beteken nie om nuwe dinge te ontdek nie, maar om ou waarhede te herontdek! Reformasie is dus ‘n terugkeer na die Woord van God as die maatstaf en bron van alle beweegrede en aktiwiteit vir ons as gelowiges.  

Die Waarheidstoets word beklemtoon:  Die Waarheid moet die indiwidu tot innerlike vrede, rus en ‘n aanvaarbare besluit bring.  Dit moet die ondraaglike soeke afhandel en oplos. Waarheid is die self-uitdrukking van God.  Die Waarheid is konsekwent volhoubaar en rigied deur tyd en geskiedenis. Waarheid staan teenoor relativisme, konstante verandering en onvoorspelbare vloeibaarheid. Ons ALMAL moet waarheid-fynproewers wees.  

Oosthuizen wei ‘n aantal hoofstukke aan onderwerpe soos: Die volkome genesing van die totale mens; Bybel-interpretasie; Apostolies Reformerende gemeentes; Die Planetêre Sferiese Model as Nuwe Kerkstruktuur; Die Spirituele Wese van die Kerk; Lofprysing en Aanbidding en die Liturgie van Viering; en Die Kerk as Sout en Lig in die Gemeenskap.   

Hy verwys na die verskillende benaderinge van die Pinkster, Charismaties, Gereformeerde, Katolieke, en Baptiste geloofsgemeenskappe. ‘n Waardevolle aspek van die boek is die omvattende verwysings na Bybeltekse wat gebruik word om die sieninge te ondersteun.  

Oosthuizen is ‘n innoverende denker en bring ‘n reeks nuwe idees te voorskyn en skep sommer daarmee tesame ‘n paar nuwe teologiese konsepte en woorde.  Hy daag die leser uit om oorspronklik te dink en weereens die fundamentele Bybelse begrippe in oënskou te neem.  

Click to join movement

Dis ‘n boek wat werklik nuwe lig werp op talle kwelvrae wat die afgelope jare in die kerk onder alle denominasies ontstaan het en elkeen was ‘n las vir God se kerk en evangelisasie het, sal opnuut geprikkel word deur die boek te lees.  

Wat is God se hart vir Sy Kerk? is beskikbaar op die Harvester Gemeente webwerf en op Amazon.

Comments are closed.