Genesing getuienisse uit Ugie

Deur Ds. Willie Schoeman – Oorspronklik gepubliseer in Grenspos Nr 18 (9 Junie, 2011)

Kobus Bester is ‘n boer in ons omgewing. Hy is ‘n paar jaar gelede met kanker van die dermkanaal gediagnoseer. Laas jaar was hy in November by ‘n chirurg in Oos-London. Die het hom opereer en hy het ‘n gedeelte van die dermkanaal wat platgeval het uitgesny.

Daarna was hy nog sieker as voorheen en het na die dokter teruggekeer. Die dokter het hom oopgesny en toe hy sien dat hy deurtrek is van die kanker hom net so weer toegewerk en vir sy vrou gesê hulle kan maar die kinders laat kom. Hy het gesê dat Kobus net ‘n paar weke (op die langste) het om te leef.

- Advertisement -

Die hele gemeente het vir Kobus gebid. Hy was ‘n rukkie in die hospitaal en het toe teruggekeer plaas toe met drup en al om daar sy laaste paar dae deur te bring.

- Advertisement -

Stadig het hy begin regkom. Na ‘n paar weke het hy die drup weggegooi. Hy het weer met die bakkie begin bestuur en het volkome herstel. ‘n Paar weke gelede het hy in ons kerk getuig dat die Here hom van kanker genees het en hy is op die kerkraad verkies.

Laas week het hy die eerste keer weer by die dokter in Oos-London se kantoor ingestap. Die dokter het amper van sy stoel afgeval. Hy het self erken dat dit net ‘n wonderwerk kan wees. Alle eer aan die Here.

Nog so ‘n wonderwerk was ‘n paartjie wat reeds 5 jaar getroud is. Hulle wou graag ‘n kind hê, maar die vrou kon nie swanger word nie. Hulle het ‘n ginekoloog in Oos-London vir vier jaar lank gesien totdat sy (die dokter is ook ‘n vrou) vir hulle gesê het dat hulle daarvan moet vergeet. Sy kan nie swanger word nie.

- Advertisement -

Hulle het daarvan vergeet, maar sy het laas jaar tydens Pinkster (toe ds Jannie Pelser hier was) spesiaal gevra vir gebed om swanger te word. Sy het toe weer daarvan vergeet.

Skielik kom sy een dag agter dat sy tekens toon dat sy swanger is. Sy het die dokter in Oos-London gebel, maar die het vir haar gesê dit is in haar kop. Sy verbeel haar. Dit kan nie gebeur nie.

Hulle het na die dokter gery en toe sy (die dokter) die bloedtoets sien wat positief toets vir swangerskap, het sy begin glo dat sy swanger kan wees. Laas Saterdag het sy geboorte gegee aan ‘n pragtige dogtertjie.

Alle eer aan die Here.

Comments are closed.