God gee Bertie ‘n nuwe naam

Hennie Smit, die gasheer van House of Bread in die koffiewinkeltuin.

Deur Chris Smith — Oorspronklik gepubliseer in Kerkbode

Baie Suid-Afrikaners ken die akteur Hennie Smit as die sagmoedige Bertie van die sepie Egoli, maar God het aan “Bertie” ’n nuwe naam gegee – en ’n nuwe kans in die lewe.

Nadat Egoli van die kassie verdwyn het, wou dinge maar net nie vir Hennie Smit vlot nie. Ná 18 jaar by dié gewilde sepie het hy gesukkel om werk te kry. Hoewel hy op daardie stadium reeds 48 jaar in die vermaaklikheidsbedryf was – en onder andere in 33 flieks verskyn het – het die werk opgedroog.

“Ek het soms in kerke en ouetehuise opgetree,” vertel hy, “en die Here het elke dag manna gestuur dat ek aan die lewe kon bly. Maar algaande het sake versleg. Ek moes later my huis en erf by die see – wat eintlik my pensioen was – verkoop en in ’n skuiling gaan bly. Dit was ’n woestyntyd in my lewe.”

- Advertisement -

Hy vertel verder: “Ná twee en ’n half jaar se gesukkel het ek besef ek is heeltemal van God afhanklik. Kyk, ek het reeds op 4 April 1956 my hart vir die Here gegee – maar dit het gegaan soos seker met die meeste van ons … Ek dink Koos du Plessis se liedjie som dit die beste op: ‘Elke keer het ek gedwaal; elke keer het U my iewers kom haal.’ Maar in daardie woestyndae het ek my geheel en al aan Hom oorgegee. Ek het aan Hom gesê ek het nie meer ’n huis nie, ek bly nou in ’n shelter.”

Toe gebeur die wonder
Toe gebeur die wonder: “Wanneer die Here ’n deur vir jou oopmaak, doen Hy dit behoorlik! Soms skop Hy jou – al is dit tot binne-in Bloemfontein,” skerts Hennie. “Só is daar ook weer in my lewe onderstreep dat God se tyd nie ons tyd is nie.
“Ek het ’n program, Wat’s jou storie, op die DStv-kanaal Kruiskyk. Die sakeman, André Venter, het een aand ‘per ongeluk’ daarop ingeskakel. En daar het hy my gesien, en besef ék is die persoon vir wie hulle gebid het om gasheer by House of Bread te wees.”

House of Bread bedryf ’n koffiewinkel sonder winsoogmerk in Brandwag, Bloemfontein. Volgens Venter word al die koffiewinkel se wins in die Here se koninkryk teruggeploeg. Tans ondersteun House of Bread vier liefdadigheidsorganisasies.

- Advertisement -

“André het my gebel en gevra ek moet kom kyk,” vertel Hennie. “En ek moes daaroor bid, het hy bygevoeg. Ná die tweede besoek het ek besef dit is waar ek moet wees, waar ek vrede vir my siel sal vind. Uiteindelik het ek sak en pak – eintlik net met twee sakke klere – in Bloemfontein aangekom.

“Nou, na ’n maand, voel dit asof ek my hele lewe lank reeds in Bloemfontein woon. ’n Nuwe seisoen het nou – kort voor my 70ste verjaardag – vir my aangebreek.

“As gasheer by House of Bread ontmoet ek baie mense en beleef ek baie liefde. Ek het weer my eie blyplek, wat deur ’n vriendin gemeubileer is. Dit is asof die Here se genade nou op my reën.”

Smit het reeds by verskeie liefdadigheidsprojekte in Bloemfontein ingeskakel en is tans ook betrokke by ’n bediening in skole. “Ek tree ook gereeld by manne-aande en vrouebedienings op en doen steeds my Met Woord en Liedvertoning.”
Een van House of Bread se projekte wat hom na aan die hart lê, is ’n klereprojek saam met ’n klompie skole. “Ons gee leë plastieksakke aan die skole en kyk dan watter klas die meeste klere kan inbring. Ons het al bakkievragte só ingesamel.”
Maar om in House of Bread met Hennie te praat, is nie maklik nie. Daar is baie onderbrekings, reëlings wat gefinaliseer moet word. “Al­les moet nou-nou reg wees; Retha (McPherson, die vroue-evangelis) kom Vrydagoggend die manne toespreek!” Hy vertel opgewonde van “Leeupraat”, ’n mannebediening waar ’n klomp mans elke Vrydagoggend 06:00 saambid in ’n tent wat by House of Bread opgeslaan word. Dié groep het reeds tot 200 uitgebrei. “Niemand wat Vrydae hier kom bid, het maskers op nie,” sê hy. “Daar is geen titels of status nie. Almal is net hier vir een doel, en dit is om nader aan die Here te kom en om Hom te dien.”

Hennie Smit heet ook nie meer Bertie nie. “ ’n Pastoor wat my glad nie ken nie, het onlangs aan my gesê die naam wat ek lank gedra het – en nie myne was nie – is nie meer my naam nie. My naam is nou My Geliefde of My Beloved. Maar ‘Bertie’ was ’n groot deel van my lewe. As dit nie vir Bertie was nie, sou soveel mense nie by my aanklank gevind het nie.”

Click to join movement

Hennie sê hy het nou rustigheid. “Na al die jare en na al my omswerwinge gebruik ek ook nou my volle arsenaal: Ek gee onderwys, ek doen drama, ek bedryf teologie en ek kook! Jy kan sê ek het tuis gekom. Ek lewe!”

One Comment

  1. Die pad wat God met mens stap is uitgekap en net soos met Hennie moes hy deur al die ops en afs gaan om sy gees voor te berei vir die wonderlike werk waar die Here hom wou gebruik. Mag jy van krag tot krag gaan Hennie en weet dat jy ‘n verskil maak op die plek waar God jou nou geplaas het. Al die lof aan Hom ons Groot Voorsiener.