Beswaar teen bewerings van plundering

Die NG Kerk het gister beswaar gemaak teen ‘n berig in Beeld waarin die kerk genoem is in verband met beweerde plundering van die staatskas in die skemerjare van die apartheidstyd.

Media24 se koerante berig vandeesweek dat die Openbare Beskermer beoog om ‘n volledige ondersoek uit te voer.

In die berig, geplaas in Beeld, Volksblad en Burger, word die NG Kerk se naam, naas ander instellings, terloops genoem. Geen detail word verskaf nie. In ‘n hoofopskrif skryf Beeld egter: “NG Kerk, bank plunder SA glo.”

In ‘n persvrystelling maak die Moderatuur van die NG Kerk kapsie teen Beeld se flagrante openbare verdagmakery.  Hy wys daarop dat die opskrif word glad nie ondersteun deur die inhoud van die berig self nie. ABSA is een van die banke wat geïmpliseer word, en is deur die koerant om kommentaar genader. Die NG Kerk is nie vir kommentaar gevra nie.

- Advertisement -

Die persvrystelling lui soos volg:

Die Moderatuur van die Algemene Sinode van die NG Kerk maak ten sterkste in die openbaar beswaar teen bogenoemde opskrif op bladsy 2 van Beeld van 7 Julie 2011. Om die een of ander duistere rede word die NG Kerk by naam (en nie van die ander instansies in die berig genoem) in die opskrif uitgesonder sonder dat die berig enige substansie bied vir hierdie blatante, openbare verdagmakery. Die ander koerante in dieselfde stal hanteer die saak anders: Die Burger se opskrif is “Apartheid se ‘skemerjare’ ondersoek” en Volksblad s’n “So plunder jy die staatskas”.

Dit is ook vir ons jammer dat ABSA se hoofregsadviseur om kommentaar genader is maar nie die NG Kerk nie. Indien die joernalis/ koerant die moeite gedoen het om ons te nader oor ons Suid-Afrika glo geplunder het, sou ons soos volg reageer het:

- Advertisement -

(1) Die NG Kerk verneem nou vir die eerste keer dat haar naam in die genoemde verslag van CIEX na vore kom. Indien die verslag in die hand van die koerant is, sal ons graag die dele waarin na ons verwys word of ons impliseer word, wou sien om op te reageer. Die wet op die reg op toegang tot inligting wat ons persoonlik raak, gee ons die reg daartoe. Indien die koerant dit nie aan ons gee nie sal ons die Openbare Beskermer en CIEX in die verband nader.

(2) Die handvol vere wat in die wind gestrooi word oor die NG Kerk bevat geen feite nie. Gee die feite en ons reageer volledig. Ons sal ook alles doen om ondersoekende joernaliste by te staan aangesien die waarheid ook vir ons belangrik is.

(3) Die NG Kerk wil dit baie duidelik stel dat indien die Openbare Beskermer ‘n ondersoek op grond van die beweerde bewerings wil doen, ons ons volle samewerking sal gee. Meer as dit: as ons die feite of bewerings ken, sal ons self ook ondersoek doen en optree.

(4) Die NG Kerk is verbind tot hierdie land en haar heling, ook ten opsigte van die regstelling van die onregte van die verlede. In ons eie geledere is daar nadenke oor en prosesse aan die gang ten opsigte van wat ons noem “herstellende geregtigheid.

Ons vertrou Beeld sal ‘n regstelling doen in verband met die opskrif.

Click to join movement

Dr JJ Gerber, Algemene Sekretaris van die NG Kerk.

Comments are closed.