Retief Burger — Luidkeels 7 Jaar van lof: Resensie

7 jaarMusiek Resensie deur Ellenor Lotter

RETIEF BURGER — LUIDKEELS 7 JAAR VAN LOF

Vandag bereik my woorde jou in die ‘hemelse taal’ soos ons Pastoor dit tong in die kies, beskryf!  Dit voel of ek ‘n ou vriend nader wink wanneer ek dink aan Retief Burger en hierdie week kyk ons na sy nuutste vrystelling uit die stal van Merchant Musiek.

7 JAAR VAN LOF – LUIDKEELS is beslis ‘n hoogtepunt!  Miskien het jy, net soos ek, na my asem gesnak toe ek hierdie eerste Luidkeels album in 2005 gehoor het!  Hierdie eerste album is onder die wakened oog van Louis Brittz opgeneem, wat sy hande vol gehad het om Retief te oortuig om die liedjies op CD op te neem sodat die hele volk daaraan deel kon hê.  Retief skryf oor Louis:  “As dit nie vir sy visie was nie, sou Luidkeels nooit gebeur het nie. Ons sou nooit kon droom wat die Here hiermee wou doen nie. Die doel was werklik om nuwe lof en aanbiddings liedjies by mense uit te kry en nie ’n groot loopbaan te begin nie. Ek het seker drie optredes in daardie eerste jaar gedoen, dit was werklik die Here wat alles laat gebeur het en deur ‘ word of mouth’ het die album by mense uitgekom. Dit was hoe ek dit wou gehad het. So eenvoudig en ongekompliseerd as moontlik, want ek wou nie my eie koninkrykie gebou het nie.”

- Advertisement -

Op daardie stadium het Retief bedien as aanbiddings leier by Kruispunt Gemeente in Potchefstroom.  Die begeerte van sy hart was om hierdie studente te lei tot in die teenwoordigheid van God, min het hy geweet dat God ander planne gehad het, heelwat groter planne!  Hierdie album het intussen Platinum Status bereik.

Twee jaar later het Luidkeels Hersien die lig gesien en in 2008 het hierdie album ‘n SAMA toekenning ontvang as Beste Afrikaanse Gospel CD en goue status. Volgende aan die beurt is Luidkeels Oorgegee in 2009 met die opname van ‘n lewendige CD en DVD by NG Moreleta Park met Joe Niemand as regiseur van die produksie. Hierdie album het ook ‘n SAMA toekenning ontvang in 2010!  Die vierde album wat op 7 JAAR VAN LOF ingesluit is, is natuurlik Luikeels Dieper wat in September 2012 opgeneem is tydens die LUIDKEELS DIEPER Konferensie. 

Wanneer mens net na hierdie hele rits van toekennings kyk, kan jy nie anders as om die guns van God op hierdie jong man se lewe raak te sien nie.  Hy bly egter ‘n aanbidder wat na die God van die Hemel en Aarde soek en Hom volg in gehoorsaamheid.  Retief: “Ek dink my grootste uitdaging is om na alles nogsteeds daagliks in alle afhanklikheid voor God te leef. Dis so maklik om net uit ervaring te bedien en voor jy jouself kan kry, staan jy leeg voor mense en sing. Dit is hier waar dit so belangrik vir my is om in ‘n plaaslike gemeente net te kan ‘wees’, gesonde lering te ontvang en ‘n gewone dissipelmaker te wees.”

- Advertisement -

Click to join movement

Nog ‘n belangrike brokkie inligting wat jou dalk mag fasineer voor ek groet is dat hierdie album oor “LAYAR” Tegnologie beskik.  Gaan snuffel gerus by http://www.youtube.com/watch?v=IgfF54xubRA vir meer inligting!

Comments are closed.