Steytlerville ondersteun matrieks en beleef seën

steytlerville
Steytlerville (FOTO: Route 62 webwerf )

[notice]DANIE MOUTON vertel hoe ‘n dorpie in die Karoo seën begin ervaar het toe Christene saamwerk om behoeftige matrikulante prakties te ondersteun. Dit is ‘n inspirerende verhaal van die seën wat God uitgiet wanneer gelowiges in eenheid dien (Psalm 133)[/notice]

Christene van verskillende kerke op Steytlerville het ‘n paar jaar gelede besluit om hande te vat ter wille van die plaaslike skool. Hulle fokus is die matrieks wat eksamen moet skryf op ‘n leë maag. “Hoe kan mens een van die belangrikste eksamens in jou lewe skryf, en dit op ‘n leë maag”, het hulle gevra.

Natuurlik is die uitdaging te groot vir een gemeente op sy eie. Steytlerville is ‘n klein dorpie, sonder baie geldelike hulpbronne. Daarom is dit noodsaaklik dat almal ‘n bydrae lewer, om ‘n verskil te maak. In hierdie geval het ‘n paar gemeentes besluit om saam te werk.

Kerke het koppe, geld en kos bymekaar gesit en begin om elke dag tydens die matriekseksamens vir kinders behoorlik kos te gee. Hulle het ook vooraf vir die kinders begin bid en vir hulle emosionele ondersteuning gegee.

- Advertisement -

Vrugbare diens
Die vrug hiervan is merkwaardig. Christene staan saam, dien saam en maak saam ‘n verskil. Die liefde, belangstelling en kos laat die kinders floreer. Hulle eksamenuitslae is beter, wat beteken dat hulle toekomsmoontlikhede baie beter is.

Op Steytlerville was kerklike samewerking gelei tot ‘n besef van verantwoordelikheid vir die welvaart van die gemeenskap. Mense het besef hulle kan saamstaan om hulle gemeenskap ekonomies te help vooruitgaan. Weer eens is dit noodsaaklik om almal te betrek.

As jy ‘n skoon dorp wil hê, moet almal saam werk. As jy die geboue netjies wil hê, moet trots by elke lid van die gemeenskap gekweek word. Almal in die dorp moet weet dit is hulle dorp, en hulle bydrae is belangrik om die dorp vooruit te laat gaan.
‘n Praktiese manier om te getuig die dorp behoort aan almal, is om die heraldiese familiewapen van elke familie in die hoofstraat uit te stal. Al die familiewapens is daarom op groot baniere aangebring wat teen die lamppale in die hoofstraat vertoon word.

- Advertisement -

Sommige families het natuurlik nie familiewapens nie. Dit is nie ‘n probleem nie. Vir hierdie families is daar professioneel wapens ontwerp. As jou oupagrootjie, jou oupa en jou pa skaapskeerders was, is daar ‘n pragtige familiewapen ontwerp rondom die simbool van iemand wat skape skeer. Dit word met trots in die hoofstraat vertoon. Steytlerville behoort aan al sy inwoners.

Unieke voorbeeld van ekonomiese herstel
Steytlerville is ‘n besondere voorbeeld van ‘n gemeenskappie wat homself ekonomies herontwikkel het, en weer vooruit begin gaan het.

Die kerk trek ook hieruit voordeel. Die NG Gemeente Steytlerville is ‘n voorbeeld hiervan. Die gemeente is reeds in 1876 gestig, en beskik oor ‘n pragtige kerkgebou. Weens die agteruitgang van die platteland kon die gemeente vir die afgelope dekade nie ‘n voltydse predikant bekostig nie. Nou, met die ekonomiese groei van die dorp, het die gemeente se inkomste egter ook begin groei, en is ‘n leraar pas weer in die gemeente aangestel.

Click to join movement

Diens, groei en seën op alle terreine hou met mekaar verband. Wanneer gelowiges dien, verander hulle die gemeenskap.

2 Comments

  1. Frans le Roux

    Ek wil dit beaam dat die dorp se kerke kan saamwerk en dit het ek ervaar met die aanbieding van die jaarlikse fietswedren wat daar gehou word,ons het so anders groot geword en hier op n platelandse dorpie van alle plekke word die teendeel bewys.
    Hou so aan julle is n inspireering vir ons stadsjapies!
    Frans

  2. Johann McFarlane

    Dis sulke stories wat ons moed gee dat dinge kan verander, veral as die kerke hande vat. Julle is ‘n voorbeeld vir ons!